
Beslag
200 g donkersjokolade, gekap
100 ml brandewyn
200 g sagte botter
250 ml strooisuiker
5 eiers, geskei
200 g gemaalde amandels
3 ml bakpoeier
30 ml kakao
1 ml sout
Versiersel
100 g donkersjokolade
60 ml room
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n koekpan van 24 cm deeglik met olie. Bestuif goed met kakao. Smelt die sjokolade, brandewyn en botter oor lae hitte tot glad. Verwyder van die hitte.
Voeg die strooisuiker en eiergeel by en roer tot die suiker opgelos is. Meng die amandels, bakpoeier, kakao en sout in ’n groot bak en giet die sjokolademengsel by. Roer goed.
Klits die eierwit tot stywe punte vorm en vou liggies by die sjokolademengsel in. Gooi in die pan en smeer gelyk. Bak sowat 35 minute lank tot die koek gaar is, maar nie droog nie. (Die toetspen moet nog effens klam wees as jy dit uit die koek trek, maar daar moenie rou beslag aan vaskleef nie.)
Haal uit die oond en laat die koek 15 minute lank in die pan afkoel. Keer uit en laat verder op ’n draadrak afkoel.
Kap 60 g van die sjokolade fyner en verhit dit saam met die room tot glad. Smeer oor die koek. Rasper of skaaf die res van die sjokolade oor en laat staan sodat die versiersel kan stol. Bêre die koek in ’n lugdigte houer.
Lewer 14-16 porsies