
¦ 300 g skilferkorsdeeg
¦ 6-8 appels, geskil, ontpit en in kwarte gesny
¦ 125 g botter
¦ 375 ml ligbruinsuiker
¦ 5 ml kaneel
¦ Skeut vars suurlemoensap
Voorverhit die oond tot 200°C en hou ’n swaarboompan met ’n oondvaste handvatsel gereed. Rol die skilferkorsdeeg uit tot 3 mm dik en sny ’n sirkel van 30 mm groter as die bokant van die pan wat gebruik word uit die stuk deeg. Verkoel tot later. Sit die appelstukke in ’n bak suurlemoenwater om te verhinder dat dit verbruin.
Smeer die botter oor die pan se bodem en sprinkel die suiker oor die botter. Verhit stadig oor lae hitte tot dit begin smelt. Verwyder die pan van die hitte. Dreineer die appelkwarte baie goed en pak dit styf teen mekaar, sodat elk effens oorvleuel, in ’n mooi patroon op die suikermengsel. Sprinkel die kaneel oor. Verhit tot kookpunt en prut tot die stroop ’n karamelkleur het en die appels byna sag is. Verwyder van die hitte.
Sit die deegsirkel oor die appels en druk die kante daarvan effens onder die karamel in. Bak vir sowat 15 minute of tot die deeg opgepof en goudbruin is. Verwyder uit die oond, laat ’n rukkie afkoel en keer dan die pan op ’n opdienbord om. Lig die pan versigtig af en sit die tert louwarm of teen kamertemperatuur voor met ’n skeppie roomys of vanieljejogurt (sien die kassie hiernaas). Lewer 8 porsies.