
1 groot, ontbeende varknek
Sout en varsgemaalde swartpeper
2 groen appels, geskil, ontkern en gehalveer
1 groot ui, baie fyn gesny
100 ml salieblaartjies
4-5 groot preie, in die lengte gehalveer
Olyfolie
125 ml witwyn
125 ml water
5 ml droë salie
Voorverhit die oond tot 190 C. Vlek die varknek oop en geur die vleis aan alle kante goed met sout en peper. Sny die appels dun en pak dit saam met die ui en salieblaartjies op die een helfte van die vleis.
Vou die ander helfte van die vleis oor sodat die appelvulsel bedek is. Bind netjies op met kombuistou. Vryf goed in met olyfolie en geur weer met ’n bietjie sout en peper.
Pak die preie in ’n oondbak om ’n bed te vorm waarop die roosterstuk rus. Sit die vleis op die preie en giet die wyn en water om die vleis. Sprinkel die salie oor. Bedek met foelie en bak vir 1 uur.
Haal die foelie af en bak vir nog 45-60 minute tot die vleis goudbruin buite-om en deurgaar is. Haal uit die oond, bedek losweg met foelie en laat rus vir 10-15 minute voor die vleis gesny en voorgesit word.
Lewer 8-10 porsies.