
Brood
1 groot Italiaanse brood (ciabatta), in 2 cm-snye gesny
8 ekstragroot eiers
375 ml volroommelk
250 ml room
80 ml suiker
15 ml vanieljegeursel
5 ml fyn kaneel
Bolaag
250 ml grofgekapte pekanneute
45 ml kaneelsuiker
45 ml gesmelte botter
Versiersuiker, om oor te sif
Pak die snye brood in ’n enkellaag in ’n oondbak. Klits die eiers, melk, room, suiker, vanieljegeursel en kaneel goed saam en giet egalig oor die brood.
Druk die brood liggies met jou hande in die eiermengsel sodat dit oral tussen die snye kan inloop en die eiermengsel goed in die brood kan intrek. Bedek die oondbak met kleefplastiek of foelie en sit die bak oornag in die yskas.
Voorverhit die oond die volgende oggend tot 180 °C. Strooi die pekanneute egalig oor die brood. Sprinkel ’n lagie kaneelsuiker egalig oor die neute. Gebruik ’n teelepel om die gesmelte botter so egalig moontlik oor die neute te sprinkel.
Bedek die oondbak met foelie en bak vir ongeveer 30 minute. Haal die foelie af en bak oop vir nog sowat 10-15 minute tot die gebak opgepof, die bolaag bros en goudbruin en die eiervla gaar en ferm is. Haal die bak uit die oond en sif ’n bietjie versiersuiker oor.
Lewer 8-10 porsies