
- 8 hoenderstukke
- Sout en varsgemaalde swartpeper
- 500 ml karringmelk
- 2 knoffelhuisies, gekneus en fyn gekap
- 30 ml koekmeel
- 125 ml bros broodkrummels
- 10 ml sout
- 5 ml varsgemaalde swartpeper
- 30 ml paprika
- 30 ml gedroogde, gemengde kruie
- 5 ml rissiepoeier
- 5 ml mosterdpoeier
- 1 hoenderaftrekselblokkie, gekrummel
- 5 ml fyn wonderpeper (pimento)
- 60 ml olie
Voorverhit die oond tot 200 °C. Geur die hoenderstukke na smaak met sout en peper en sit in ’n glasbak. Meng die karringmelk met die knoffel, giet oor die hoender en meng goed. Bedek met kleefplastiek en sit oornag in die yskas. Meng die res van die bestanddele, behalwe die olie, en strooi in ’n vlak bord.
Haal die hoenderstukke uit die karringmelk, skud die oortollige karringmelk af en druk in die krummelmengsel sodat elke stuk oraloor bedek is. Pak die hoender op ’n bakplaat. Gooi die olie in ’n spuitbotteltjie en bespuit elke stuk hoender liggies daarmee. Bak vir 45-50 minute of tot heeltemal gaar.
Lewer 4 porsies