
250 ml rou botterboontjies, geweek
1,2 kg varkpotjievleis van die been af
200 g gerookte varkvleis
45 ml kookolie
2 uie, in groot ringe gesny
4 knoffelhuisies, grof gekap
6 takkies vars bonekruid
2 vars lourierblare
3 aartappels, geskil en in dik skywe gesny
Sout en peper na smaak
2 buiteblare van ’n kool, grof gekap
’n Raspertjie vars neutmuskaat
’n Groot klont botter
’n Bietjie kookwater
Kook die botterboontjies in skoon water tot halfgaar. Dreineer en hou eenkant. Sny die vars en gerookte varkvleis in groterige blokke en braai dit in die kookolie tot dit redelik bruin is. Voeg die uieringe by en braai tot deurskynend. Nou kom die knoffel, bonekruid en lourierblare by.
Gooi ’n laag van die gaar boontjies oor, dan ’n laag aartappelskywe waaroor jy ’n bietjie sout en peper strooi en dan ’n laag kool met ’n bietjie sout en ’n raspertjie neutmuskaat. Heel boop sit jy ’n klont botter. Sit die deksel op en prut vir ’n uur tot die groente gaar is. Voeg bietjie water by indien nodig. Lewer 6 porsies.