
750 ml gaar, fyngedrukte pampoen (maak seker die pampoen is goed drooggekook)
500 ml bruismeel
5 ml sout
5 ml Paasspeserye (sien Kombuiswenk)
10 ml bakpoeier
2 ekstragroot eiers
Olie, vir braai
Speserysuiker
100 ml strooisuiker
5 ml Paasspeserye
Karamelsous
250 ml suiker
30 ml botter
180 ml louwarm room
Pampoenkoekies: Meng die pampoenpuree met die droë bestanddele. Klits die eiers liggies en voeg by. Meng alles goed tot ’n gladde beslag.
Verhit ’n bietjie olie in ’n groot kleefvrye pan en braai lepels vol van die beslag daarin tot borreltjies op die bokant vorm. Draai die pampoenkoekies om en braai tot goudbruin en deurgaar. Herhaal met die res van die beslag.
Speserysuiker: Meng die strooisuiker en Paasspeserye en sprinkel oor die pampoenkoekies.
Karamelsous: Skep die suiker in ’n kleefvrye pan en verhit stadig oor lae hitte, sonder om te roer, tot die suiker gesmelt is. Kantel die pan om die suiker te versprei, maar moenie roer nie.
Sodra die suiker alles gesmelt is en dit begin verkleur, wag tot dit ’n goue kleur bereik en voeg die botter by. Voeg nou die room bietjies-bietjies by, terwyl jy aanhoudend roer. Verhit en roer tot die sous glad en verdik is. Sit voor met die pampoenkoekies.
Lewer 10 porsies.
KOMBUISWENK
Maak jou eie Paasspeserymengsel:
Meng 10 ml fyn kaneel, 3 ml fyn neutmuskaat, 3 ml fyn pimento en 5 ml fyn gemmer. Gooi dit in ’n glasflessie en verseël lugdig. Verdubbel of verdriedubbel die resep indien verkies.