
Tertkors:
375 ml koekmeel
2 ml sout
100 g koue botterblokkies
Ongeveer 60 ml yswater
Vulsel:
250 g klein patatblokkies
1 rooi soetrissie, in repies gesny
5 ml sout
30 ml olyfolie
100 g bokmelkkaas, dun gesny
2 eiers
125 ml room
60 ml melk
Sout en peper na smaak
Sif die meel en sout saam en vryf die botter met jou vingers in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Sny die yswater in tot klam krummels vorm wat aan mekaar begin vassit. Draai in kleefplastiek toe. Verkoel vir minstens 30 minute.
Voorverhit die oond tot 200 °C. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en voer ’n losboomtertbord van 30 cm x 18 cm daarmee uit. Vul met bakpapier en droë bone en bak vir 10 tot 15 minute blind. Haal die papier en bone uit en bak vir ’n verdere 5 tot 10 minute.
Sit die patat en soetrissie in ’n oondbak, geur met sout en drup olyfolie oor. Oondrooster tot goudbruin en gaar. Skep in die tertdop en pak bokmelkkaas bo-op. Klits die eier, room, melk, sout en peper saam.
Giet bo-oor en bak vir 15 tot 20 minute tot goudbruin en ferm. Lewer agt porsies.