
Vleissous
- 30 ml olie
- 1 ui, gekap
- 2 knoffelhuisies, gekap
- 500 g beesmaalvleis
- 10 ml elk gemaalde koljander en komyn
- 15 ml elk worcestersous en tamatiepasta
- 1 blik (410 g) tamatiepuree
- 180 ml water
- Sout, swartpeper en suiker na smaak
- 5–10 ml gekapte, vars of 3 ml droë oreganum
Witsous
- 45 ml elk botter en koekmeel
- 850 ml louwarm melk
- Sout en peper na smaak
- 3 groot patats
- Stukkies botter
- Sout, peper en neutmuskaat na smaak
Verhit die olie en braai die ui en knoffel in ’n pot tot geurig. Voeg die vleis by en braai tot gaar. Voeg die speserye by en braai vir ’n paar minute. Voeg die res van die bestanddele by en verhit tot kookpunt. Prut baie stadig vir 20-30 minute terwyl jy nou en dan roer. (Die vleissous moet taamlik souserig wees, maar nie loperig nie.)
Terwyl die vleissous prut, maak ’n witsous van die botter, meel, melk, sout en peper. Voorverhit die oond tot 180 °C. Kry ’n bak met soutwater gereed. Skrop die patats se skille goed skoon en droog af. Sny die patats in dun skyfies en laat dit in die soutwater lê (dit verhinder dat die patats swart word).
Smeer ’n oondbak met botter en pak ’n lagie patats op die boom van die oondbak. Skep ’n lagie van die vleissous en dan ’n lagie witsous oor. Pak weer ’n lagie patatskyfies. Herhaal die lae en eindig met ’n lagie patats. Stip die boonste patats met klein stukkies botter en geur met sout, peper en neutmuskaat.
Bedek die gereg met ’n stuk geoliede foelie (die gesmeerde kant na binne) en bak vir ongeveer 45 minute, tot die patats sag is. Druk die gereg vinnig onder ’n warm oondrooster om kleur daaraan te gee. Lewer 8 porsies
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.