
Jodine bak hierdie lekker tert in muffinpanne vir individuele porsies, maar jy kan natuurlik ook een groot tert maak. Sit die tert louwarm of teen kamertemperatuur voor met goeie vanieljeroomys of geklopte room.
125 g botter of margarien
150 ml suiker
2 ml vanieljegeursel
1 ekstragroot eier
500 ml koekmeel
7 ml bakpoeier
Appelvulsel
1 blik (440 g) tertappelstukke
50 ml suiker
125 ml water
5 ml kaneel
125 ml sultanas
Knippie sout
12,5 ml vlapoeier
Bietjie koue water
Deeg: Verroom die botter, suiker en vanieljegeursel saam. Klits die eier by. Sif die koekmeel en bakpoeier oor en meng tot ’n deeg. Vries ’n derde van die deeg om later oor die tertjies te rasper. Bedek die ander deel (twee derdes) met kleefplastiek en verkoel tot benodig.
Vulsel: Sny die appelstukke in kleiner blokkies en sit dit in ’n kastrol met die suiker en water. Verhit tot kookpunt en prut tot ’n ligte stropie vorm. Voeg die kaneel, sultanas en sout by. Maak vlapoeier met ’n bietjie water aan en voeg dit ook by. Verhit tot kookpunt en prut vir ongeveer 3 minute. Laat die vulsel afkoel tot kamertemperatuur. Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit die holtes van ’n standaardgrootte muffinpan met kleefwerende kossproei.
Rol die groter stuk deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak, druk sirkels uit en voer die muffinholtes daarmee uit. Sny die kante netjies. Verdeel die vulsel tussen die uitgevoerde muffinholtes. Rasper die kleiner stuk bevrore deeg grof en sprinkel die gerasperde deeg oor die tertjies se vulsel. Bak vir 20-25 minute tot liggoudbruin en deurgaar.
Laat vir minstens 10 minute in die panne afkoel voor die tertjies uitgehaal word. Sif versiersuiker oor en sit voor. Lewer 10-12 tertjies of 1 groot tert.
Plaaskombuis word Woensdae om 17:30 op Via (kanaal 147 op DStv) uitgesaai met ’n heruitsending Sondae om 17:00. Die reeks word aangebied met die samewerking van Landbouweekblad.
Volgende week kook en kuier Elma by die De Villiers-familie van die plaas Beloftebos buite Stanford.