
- 2 groot steaks van jou keuse (ongeveer 300 g elk), teen kamertemperatuur
- Olyfolie
- Sout en vars gemaalde swartpeper
- 60 ml botter
- Skeut brandewyn
- Vars suurlemoensap
Bykos van jou keuse (ons het braai-aartappelwiggies en gestoomde aspersies voorgesit)
Sorg dat jou bykos en slaai gereed is voor jy die steak begin gaarmaak.
Bedruip die steaks met olyfolie en geur goed met sout en peper. Maak ’n droë riffelpan rookwarm. Sit die steak daarin en braai. Probeer vir 2-3 minute om nie die steak om te draai nie. Draai nou die steak om en braai vir net so lank aan die ander kant, of tot gaar na smaak. Haal die steak uit die pan, bedek en laat rus.
Hou die riffelpan op die hitte en skep die botter daarin. Voeg dadelik die brandewyn by en laat opvlam. Druk ’n vars suurlemoen in die pan uit en roer vinnig om ’n sous te vorm. Geur die sous na smaak met sout en peper en verwyder van die hitte.
Sit die steak op ’n houtplank en sny in dun skyfies. Skep die geurige pansous oor en sit voor met bykos van jou keuse.
Lewer 4 porsies
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.