
Ek skroei die mielies gewoonlik sommer oor my gasstoof se vlamme, maar as jy ’n vleisbraaivuurtjie het, bly dit altyd eerste prys om dit oor rooiwarm kole te doen. Jy sal verbaas wees watter groot verskil dit aan die smaak van die slaai maak.
Slaai
Halwe klein blaarkool, fyn gekerf
3 groot wortels, fyn gerasper
250 g kersietamaties, gehalveer of in kwarte gesny
1 middelslagpynappel, skoongemaak en in stukkies gesny
3 mielies, gaar gekook
Kruisementblare
Slaaisous
125 ml suurroom
80 ml goeie mayonnaise
60 ml suurlemoensap
60 ml pynappelsap
5 ml heuning
5 ml fyngekapte, vars kruisement
Sout na smaak
Meng die kool, wortels, tamaties en pynappelstukkies saam. Skroei die mielies oor ’n gasvlam of onder die oond se roosterelement. Laat effens afkoel en sny die pitte van die stronk af. Voeg dit by die slaaibestanddele en meng liggies deur.
Skep op ’n opdienbord en sprinkel vars kruisementblare oor. Meng ál die bestanddele vir die slaaisous saam en drup dit oor die slaai. Lig die slaai effens sodat van die slaaisous kan deurloop en alles nie bo-op lê nie. Sit voor met varkvleis, hoendervleis of vis. Lewer 6 porsies.