
Kors
1 pakkie (200 g) Tennisbeskuitjies
80 ml fyn appelkooskonfyt
100 ml sjerrie
Vulsel
1 pakkie (80 g) pynappeljellie
250 ml kookwater
1 blik kondensmelk
1 blik (440 g) fyn pynappel, goed gedreineer
Bolaag
250 ml room 15 ml versiersuiker, gesif
5 ml vanieljegeursel
60 ml geroosterde klapper
Smeer ’n tertbord van 20 cm x 20 cm liggies. Pak die helfte van die Tennisbeskuitjies met die gladde kante na bo. Smeer ’n lagie appelkooskonfyt op die gladde kante en bedek met die res van die Tennisbeskuitjies (soos toebroodjies). Pak die Tennisbeskuitjie-toebroodjies styf teen mekaar in die voorbereide tertpan en besprinkel met sjerrie. Verkoel tot benodig.
Meng die jellie en kookwater tot die jellie opgelos is. Roer die kondensmelk by en laat effens afkoel. Voeg die goed gedreineerde, fyn pynappel by. Laat staan die mengsel tot dit net effens begin verdik en giet dit dan versigtig op die koekiekors. Verkoel tot ferm. Klits die room, versiersuiker en vanieljegeursel saam styf en smeer of spuit bo-op die tert net voor dit voorgesit word. Sprinkel klapper oor. Lewer 9 porsies