
Die Rouxs is lief vir mense, goeie kos en wyn. Hulle bederf hul gaste graag met egte Overbergse boerekos. Dit is dikwels iets wat hulle nie sommer op enige restaurantspyskaart sal aantref nie, soos hierdie smaaklike geelstertgereg.
- 1 geelstert van 2-3 kg, gevlek vir braai
- Sout, vars gemaalde swartpeper en knoffelsout
- 100 g botter
- 3-4 knoffelhuisies, fyn gekap
- Sap van 2 suurlemoene
- Skeutjie witwyn
Deeg
- 500 ml koekmeel
- 150 g koue botter, in blokkies gesny
- 125 ml melk
Vulsel
- 45 ml botter
- 250 g gesnipperde sampioene
- 30 ml koekmeel
- 290 ml warm melk
- Sout en peper na smaak
- 2 blikkies gerookte mossels, goed gedreineer en grof gekap
- Gerasperde kaas, om oor te sprinkel
Geur die vis met sout, peper en knoffelsout. Verhit die botter in ’n klein kastrol en braai die knoffel stadig daarin tot sag. Voeg die suurlemoensap en witwyn by en verhit tot kookpunt. Braai die geelstert oor matige kole, terwyl dit met die bottersousie bedruip word, tot net gaar. Laat die vis afkoel en vlok in growwe stukkies. Maak seker dat al die grate verwyder is. Hou die gevlokte vis eenkant.
Deeg
Skep die meel in ’n mengbak en vryf die botter daarby in met jou vingerpunte (of gebruik ’n voedselverwerker). Voeg die melk bietjie vir bietjie by en sny dit liggies in tot ’n deeg vorm. Bedek en verkoel vir 30 minute. Rol die deeg dun uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Voer 6-8 gesmeerde losboomtertbakkies met die deeg uit.
Prik met ’n vurk en verkoel tot benodig. Vulsel: Smelt die botter in ’n pan en braai die sampioene daarin tot gaar. Sprinkel die koekmeel oor en verhit, terwyl geroer word, tot die meel begin borrel. Voeg die gekapte mossels en gevlokte geelstert by. Geur na smaak en skep die vulsel in die voorbereide tertkorse.
Sprinkel gerasperde kaas oor en bak vir 20-35 minute tot die deeg gaar en goudbruin en die vulsel borrelend warm is. Laat effens afkoel en sit voor met suurlemoenwiggies en vars slaai.
Lewer 6-8 groot porsies.
Teken HIER in vir ons kosnuusbrief en ontvang elke twee weke 'n gratis nuusbrief met heerlike resepte en artikels.