
1,3 liter melk
1 lemoen
250 ml sago
Knippie sout
100 g botter
200 ml suiker
5 eiers, geskei
10 ml vanieljegeursel
80-100 ml strooisuiker
Van der Hum-stroop
4 lemoene
125 ml water
125 ml suiker
15 ml mielieblom
45 ml Van der Hum-likeur
Giet die melk in ’n groot kastrol. Gebruik ’n aartappelskiller om dun repe skil van die lemoen af te skil. Voeg die lemoenskil by die melk en voeg die sago ook by. Laat die sago en lemoenskil in die melk week vir minstens 2 uur.
Druk die lemoen se sap uit en hou eenkant.
Sit die kastrol op die stoof en verhit die melk, sago en lemoenskil tot kookpunt. Prut stadig oor lae hitte, terwyl geroer word, tot die sago gaar en deurskynend is. (As dit lyk of die melk te min is, voeg ’n skeut kookwater by.)
Sodra die sago gaar is, verwyder van die hitte en roer die botter, suiker, eiergele en vanieljegeursel by. Skep die poeding in ’n oondbak en voorverhit die oond tot 180 °C.
Maak nou die stroop: Druk die vier lemoene se sap uit en verhit dit saam met die water en suiker tot kookpunt. Meng die mielieblom met die lemoensap wat vroeër uitgedruk is en voeg dit by die lemoenstroop. Prut verder, terwyl geroer word, tot effens verdik.
Verwyder van die hitte en voeg die Van der Hum-likeur by. Roer deur. Skep ’n lagie van die stroop op die sagopoeding en hou die res eenkant om later warm te maak en saam met die poeding voor te sit.
Klits die eierwitte tot stywe punte vorm terwyl die strooisuiker lepel vir lepel bygevoeg word. Hou aan klits tot styf en blinkwit.
Skep die meringue bo-op die poeding en bak vir 20 minute tot die meringue goudbruin is. Laat staan vir 10 minute en sit voor met die orige Van der Hum-stroop.
Lewer 8 porsies
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.