
Beslag
- 250 ml suiker
- 3 groot eiers
- 45 ml fyn lemoenmarmelade
- Fyngerasperde skil van 1 lemoen of mandaryn
- 500 ml koekmeel
- 10 ml bakpoeier
- Knippie sout
- 5 ml koeksoda
- 500 ml melk
Stroop
- 125 g botter
- 500 ml suiker
- 250 ml room
- 250 ml melk
- ’n Paar dungeskilde repe lemoen- of mandaryn[1]skil (die oranje deel, nie die wit nie)
- Knippie sout
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n groot oondbak met botter. Klits die suiker en eiers goed saam tot liggeel en dik. (Dit duur ongeveer 10 minute. Die mengsel moet in ’n dik lint van die klitser afloop as jy dit oplig.) Klits die marmelade en sitrusskil by.
Voeg die koekmeel, bakpoeier en sout by. Los die koeksoda in die melk op en voeg dit ook by. Roer tot goed gemeng. Skep in die voorbereide oondbak en smeer gelyk. Bak vir 45-60 minute tot die poeding goudbruin en deurgaar is.
Terwyl die poeding bak, maak die stroop:
Verhit die botter, suiker, room, melk, sitrusskil en knippie sout stadig saam, terwyl geroer word, tot kookpunt. Prut vir 5 minute liggies en hou die stroop eenkant warm. Sodra die poeding uit die oond kom, verwyder die repe sitrusskil uit die stroop en giet die warm stroop oor die poeding. Laat dit goed intrek, vir ongeveer 15 minute, voor jy die poeding met vla, geklopte room of roomys voorsit.
Lewer 10-12 porsies.