
Die konsep van roomys wat in die oond gebak word en steeds gevries anderkant uitkom, maak nie sin nie, maar bly wonderlik.
Koek
125 g botter
100 g donker sjokolade
180 ml sterk filterkoffie
250 ml suiker
250 ml bruismeel
20 ml kakao
1 eier
5 ml vanieljegeursel
Roomys
1 liter vanieljeroomys
375 ml fyngesnipperde aarbeie
15 ml fyngekapte, vars kruisement
Meringue
5 eierwitte
250 ml strooisuiker
10-15 ml roosstroop
Koek: Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n pan van 20 cm. Voer uit met bakpapier en smeer weer.
Smelt die botter, sjokolade en koffie saam oor lae hitte. Voeg die suiker by, verwyder van die hitte en roer tot die suiker opgelos is. Sif die meel en kakao saam in ’n mengbak. Klits die eier en vanieljegeursel saam en voeg by die sjokolademengsel.
Voeg by die droë bestanddele en meng goed tot ’n gladde beslag. Skep in die pan en bak vir 35-45 minute tot deurgaar. Laat vir 10 minute in die pan afkoel en keer dan uit op ’n draadrak om verder af te koel.
Sodra die koek koud is, sny dit in twee dunner lae en smeer aarbeikonfyt op die onderste laag. Sit die ander helfte bo-op.
Roomys: Maak die vanieljeroomys effens sag en voeg die aarbeie en kruisement daarby. Vries weer tot hard en skep bolle van die roomys op die sjokoladekoek.
Maak seker jy los ’n rand van 5 cm reg rondom oop. Sit die koek met roomys in die vrieskas terwyl jy die meringue maak.
Voorverhit die oond tot 250°C. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits, tot die mengsel dik en blinkwit is. Klits die roosstroop by.
Sit die koek op ’n oondvaste bord en skep die meringue boop die roomys en koek. Smeer die roomys en koek toe met die meringue (maak seker daar steek niks uit nie, anders smelt die roomys).
Bak vir ’n paar minute, net tot die meringue gerooster is. Haal uit die oond en sit dadelik voor met aarbei- of sjokoladesous. Lewer 14-16 porsies.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.