
Koek
250 ml koekmeel
60 ml kakao
250 ml suiker
2 ml sout
10 ml bakpoeier
125 ml kookwater
125 ml olie
4 eiers, geskei
Stroop
180 ml ingedampte melk
125 ml suiker
Haselneutganache
150 g heelneutsjokolade
100 ml room
5 ml haselneutlikeur (soos Frangelico)
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n ringkoekpan van 25 cm met olie. Sif die meel en kakao en meng met die suiker, sout en bakpoeier. Klits die kookwater en olie saam.
Voeg die eiergele by die olie-en-watermengsel en klits goed. Hou die eierwit eenkant.
Voeg die vloeistofmengsel by die droë bestanddele en meng. Klits die eierwit tot stywe punte vorm en vou in. Skep die beslag in die pan en bak vir 25-30 minute tot deurgaar.
Terwyl die koek bak, verhit die ingedampte melk en suiker tot kookpunt. Sodra die koek uit oond kom, prik gaatjies daarin en giet die warm stroop oor. (Dit sal lyk of die stroop te veel is, maar alles sal intrek.) Laat afkoel en keer uit.
Smelt die sjokolade en room oor lae hitte tot glad. Laat effens afkoel en roer die haselneutlikeur by. Skep oor die koek. Bêre die koek in die yskas, maar sit voor teen kamertemperatuur.
Lewer 12-14 porsies