Soos baie ander waardevolle dinge wat ek by my pa, Chris, geleer het, is vuur maak een van hulle. O ja, en om ’n band om te ruil. ’n Meisie moet haarself darem kan help in die lewe, of hoe?
Sedert ek ’n klein dogtertjie was, was daar altyd skaapboud met mosterd op enige Kerstafel van ons gesin of familie. Die mosterd is só gewild onder ons suikertand-Janekes dat dit nou ’n staanplek in my ouers se yskasdeur het.
Dit is my pa se grootste plesier om die mosterd te maak ’n dag of twee voor die feesvieringe (want dit smaak net lekkerder as dit bietjie gestaan het, en hoe langer dit staan, hoe lekkerder word dit).