
- 8 hoenderporsies (boudjies en dye)
- Sout en vars gemaalde swartpeper
- 30 ml olie
- 3 middelslagpatats, in skywe gesny
- 125 ml druiweasyn
- 80 ml soet rissiesous
- 45 ml sojasous
- 3 ml komyn
- Sap en fyn gerasperde skil van 1 lemoen
- 45 ml bruinsuiker of heuning
- Vars tiemie, om oor te strooi
Voorverhit die oond tot 180 °C. Geur die hoender met sout en peper. Verhit die olie in ’n pan en braai die hoenderporsies daarin tot bruin alkante. Skep uit in ’n oondbak.
Rangskik die patatskywe tussen die hoender en geur weer liggies met sout en peper. Meng die asyn, rissiesous, sojasous, komyn, lemoensap en -skil en bruinsuiker (of heuning) goed en skep dit egalig oor die hoender. Bedek die bak met foelie en bak vir 40 minute.
Verwyder die foelie, skep van die sous oor die hoender en patats en bak oop vir nog 20-30 minute tot die hoender en patats baie sag en die hoender se vel bros en gekaramelliseer is. Sit voor met rys of koeskoes en groente van jou keuse.
Lewer 6-8 porsies
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.