Om te verstaan waarom Wagyu-vleis so gesog is, moet jy eers die rou vleis sien. Die vet tussen die vleis is soos riviere vol smaak.
Dis ongelooflik. Die vet smelt teen ’n baie lae temperatuur. Dan lyk dit nes ’n gewone steak op jou bord, maar met ’n heerlike smaakontploffing. As jy nog wonder of jy Wagyu-vleis eet, kan jy maar weet dis beslis nie Wagyu nie. Daarvoor is die smaak te kenmerkend.
Die vleis is bekend vir sy uitstekende marmering en ’n hoë persentasie onversadigde vette, soos omega 3 en omega 6 – almal baie gesonde vette. In September het ek die voorreg gehad om saam met Adrian Buchanan, my goeie vriend en mede-sjef, kos te maak by die Wagyu & Wine-aand op Parys.