
Die romerige tekstuur van die boontjies, saam met die gerookte geur van die spek en afgewissel met die intense sout happies kappertjiesaad tussen-in, is ’n smullekker kombinasie. Die louwarm suurlemoenslaaisous rond dit perfek af. Ek sit die slaai louwarm voor. Dit smaak vorentoe saam met geroosterde hoender of vis.
1 pak (500 g) witbone
1 pak (250 g) spekvleis, gekap
15 ml kappertjiesaad
Olyfolie, vir braai Sout en varsgemaalde swartpeper
Suurlemoen-en-mosterdslaaisous
½ klein ui, baie fyngekap
180 ml olyfolie
60 ml vars, uitgedrukte suurlemoensap
10 ml dijonmosterd
5 ml heuning
Sout na smaak Verhit die witbone in ’n kastrol met skoon, koue water sonder sout tot kookpunt en prut tot sag, maar nie pap nie. Terwyl die bone prut, braai die spekvleis in ’n droë pan tot gaar en bros. Skep uit op kombuispapier om te dreineer en hou eenkant.
Braai die kappertjiesaad in die uitgebraaide vet van die spekvleis tot die saadjies oopskiet en bros word. Skep uit in dieselfde bord waarin die spek is.
Sit al die bestanddele vir die slaaisous, behalwe die sout, in ’n menger en pols tot ’n gladde, romerige sous. Geur na smaak met ’n knippie sout of voeg nog ’n bietjie heuning by om die soetsuur smaak van die sous reg te kry.
Dreineer die boontjies en gooi dit in ’n slaaibak. Giet die sous oor die warm boontjies en meng liggies. Laat afkoel tot louwarm en meng die bros spek en kappertjiesaad deur die slaai. Sit louwarm voor.
Lewer 8 porsies
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.