
Die enigste BMW wat jy normaalweg op ’n plaaswerf aantref, is een van die Duitse vervaardiger se gerekende GS-avontuurmotorfietse. BMW se X3-sportnutsvoertuig word egter nou op ’n vindingryke manier verweef met die plaaslike landbou.
Suid-Afrika was nog altyd ’n kroonjuweel in BMW se belange buite Duitsland, met die Rosslyn-aanleg noordwes van Pretoria wat al 45 jaar lank BMW’s van die beste gehalte bou. Plaaslik vervaardigde BMW’s word so noukeurig aanmekaargesit dat Rosslyn as ’n voorkeuraanleg beskou word.
Naastenby 1,2 miljoen motors in die BMW 3-reeks is reeds deur die Rosslyn-aanleg gebou. Vroeër vanjaar het ’n belegging van R6,2 miljard die aanleg gereed gekry vir ’n nuwe hoofstuk: die vervaardiging van BMW se X3-sportnutsvoertuig. Die mikpunt is 76 000 voertuie per jaar, waarvan die meeste hoofsaaklik uitvoereenhede vir die Europese mark sal wees. En dié X3’s word boonop gebou met ’n groot hupstoot van die plaaslike grootveebedryf.
Hoe help 25 000 beeste buite Bronkhorstspruit BMW om X3’s vir die uitvoermark te produseer?
Eenvoudig: met die verskaffing van volhoubare energie. BMW se hoofkantoor in München het streng doelwitte om teen 2020 alle aanlegte wêreldwyd met 100% hernubare energie te bedryf en in Suid-Afrika maak dié vindingryke biogasverskaffer daardie teiken baie haalbaarder.
Aan die grens van Beefcor se Bronkhorstspruitvoerkraal is daar reuse-verteertenks wat behoort aan Bio2Watt, ’n opwekker van volhoubare energie. BMW is ’n kliënt van Bio2Watt en koop 30% van die Rosslyn-aanleg se krag uit Bronkhorstspruit, met die mikpunt om binnekort alle plaaslik vervaardigde X3-voertuie met 100% hernubare krag te bou.
Die Bio2Watt-kragopwekking skakel biomassa om in gas, wat dan vier turbines aandryf en sodoende 4,6 MW in die elektrisiteitsnetwerk stoot. Met die aanleg ’n klipgooi weg van die voerkraal is daar indrukwekkende doeltreffendheid binne die projek se verskaffingsketting.
Sowat 75% van die aanleg se biobiomassa-verwerkingsvermoë van 120 000 ton per jaar sal uit die voerkraal voorsien word. Die res sal hoofsaaklik bestaan uit restaurante se oorskietkos en weggooibestanddele, wat aangery sal word uit Pretoria.
Bio2Watt se aanleg het ’n verwagte gebruikstyd van 20 jaar en met die aantal beeste wat biomassa vervaardig in Suid-Afrika, is dit gewis ’n uitstekende bron van hernubare krag wat groot belofte inhou om landelike gemeenskappe selfonderhoudend te maak met kragvoorsiening.
Dat Bronkhorstspruit se beeste nou help om omgewingsvriendeliker BMW X3’s die wêreld in te stuur wys dat Suid-Afrika se landelike gemeenskappe vernuftige antwoorde kan bied vir die land se ekonomiese bevordering.
Vir BMW Suid-Afrika is die teenwoordigheid van ’n reuse-voerkraal buite Bronkhorstspruit nou ’n sleutel-bedryfsbate, danksy Bio2Watt se vindingryke plan om weggooibiomassa slimmer te gebruik.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.