
Sedert die maatskappy se ontstaan in 2004 het tegniese vernuf en bougehalte SVI tot groot hoogtes gehelp in die private mark vir pantservoertuie.
Met van Ford Ranger se enkelkajuitbakkies tot Land Cruiser 300’s word SVI vertrou om bestuurders en passasiers te beveilig tydens ’n gewapende kaping. SVI se jongste skepping het ’n sterk krygsvoertuigvoorkoms, maar dit is dalk net wat boere nodig het in gebiede waar plaasveiligheid ’n brandpunt is.
SVI se Max 3 is ’n seswielombouing van Toyota se Land Cruiser 79-dubbelkajuit-bakkie. Die oogmerk is om op ’n beproefde onderstel meer dra- en veldryvermoë te gee met pantserbeskerming.
Min bakkies kan ’n Land Cruiser 79 se taaiheid ewenaar en daarom is hierdie voertuie so gesog vir pantserombouings. Dit help ook dat die Land Cruiser 79, soos alle ander bakkies, ’n leerraam-onderstel het, wat dit makliker maak om die kajuit en bakwerk te verwyder.
Die span by SVI vervang Toyota se oorspronklike Land Cruiser 79-bakwerk met ’n dubbelkajuit, enjinkap en romp van staal. SVI het hierdie Max 3-bakwerk self ontwerp om koeëlbestand te wees teen aanvalsgewere. Om te waak teen gapings in die bakwerk waar ’n koeël dalk kan deurslaan, bou SVI hierdie Max 3-rompe self, met die hoogste vereistes vir vakmanskap.
Daar is geen twyfel dat die Max 3 indrukwekkend lyk nie. En met daai slim hoofligbeskermers van staal sal jy nooit per ongeluk ’n lig beskadig as in die donker bokke geoes word in digte bosveld nie.
Die voordele van ses wiele
Benewens die koeëlbestande bakwerk is die tweede agteras die Max 3 se kenmerkendste eienskap is. Met drie asse, pleks van twee, het dit verbeterde veldry- en dravermoë. SVI se tegniese span gebruik ’n teenkantelstaaf om die Max 3 bietjie meer regop te hou wanneer teen hoë snelhede skielik van rigting verander word.
Veldrykenners weet dat seswielvoertuie ’n reuseverbetering in klouvermoë meebring. Twee ekstra bandoppervlakke beteken ook beter gewigverspreiding vir ry in die sand.
Interessant genoeg trek SVI se Max 3 nie aan al drie asse nie. Hierdie is ’n 4x6-voertuig, nie ’n 6x6 nie. Om ontwikkelingskoste en meganiese instandhouding in toom te hou, het SVI besluit om nie aandrywing na die derde as aan te bring nie. Dit maak die voertuig ligter en verminder meganiese wrywing, maar bied al die vragdravoordele van ’n seswielvoertuig.
Waar ’n gewone Land Cruiser 79-dubbelkajuit 1 ton op die agteras kan dra, dra ’n Max 3 sonder moeite 2 ton.
Toyota se Land Cruiser-bakkies het min swakplekke, maar remkrag is een van hulle. SVI vervang die trae trommelremme met baie kragtiger skuifremme wat noodremverrigting verbeter.
Daar word nie gepeuter met Toyota se beproefde 4,5 liter-V8-turbodieselenjin nie. Dit beteken dat jou Max 3-dubbelkajuitpantserbakkie, in beginsel, honderdduisende kilometers behoort te loop sonder moeite.
As jy spogbeeste rondry en senuagtig is vir ’n voertuigkaping, is die SVI se Max 3-dubbelkajuit ’n uitstekende vragdraer. Met al die bykomende beveiliging kan dit kommer oor ’n kaping of aanval op die voertuig sus.