
Die plaaslike mark vir 4x4-stasiewaens met ’n leerraamonderstel is besonder sterk. Dubbelkajuitbakkies is wonderlike veldryspeelgoed en geskik vir die wegry van tuinrommel of die aanry van ’n maand se braaihoutvoorraad, maar nie soseer geskik as ’n gesinsvoertuig nie.
Vir diegene wat ’n derde ry sitplekke en sluitbare laairuimte benodig wat teen stof en weer bestand is, is die 4x4-stasiewa steeds baas bo ’n dubbelkajuitbakkie. Die kernvraag is of nuwe Everest Toyota se Fortuner kan klop wat prys en waarde aanbetref.
Everest se groot aantrekkingskrag is krag. Ford bied ’n 3 liter-V6-turbodiesel in die vlagskip-Everest, wat ’n baie sterker werkverrigtingsyfer het as ’n Toyota Fortuner se 2,8 liter-turbodieselenjin. Met 184 kW en 600 Nm is die nuwe Everest se vermoë om op die oop pad ’n voertuig verby te steek uitstekend. Toyota se enjin, wat onder meer diens doen in die Fortuner, kan eenvoudig nie kers vashou by die Everest se V6-turbodiesel nie.
Ford se dryfstelsel het ook die voordeel van meer ratte, met ’n outomatiese tiengangratkas wat beter bestuursgemak en dieselverbruik bied as die Fortuner se sesgang. Dit bygesê, as jy die volkome bestuursbeheer van ’n handrat soek, is daar ’n mate van teleurstelling omdat Ford slegs ’n outomatiese ratkas bied met die Everest.
Met ’n beduidende voordeel ten opsigte van enjinkrag en ratkeuses het die nuwe Everest V6 beter sandry-, sleep- en snelwegvermoë as ’n Fortuner.
Gemakliker as ’n bakkie
Ford se ontwerpers het besef dat Everest-eienaars hul voertuie gebruik as ’n kantoor en gesinsruimte wanneer daar getoer word op langnaweke. Die gevolg is ’n binneruim propvol vindingryke tegnologie, met meer kop-, skouer-, elmboog- en beenruimte as voorheen.
Die rathefboom is besonder klein en pleks van ’n parkeerremstang (soos op die Fortuner) word Everest se parkeerrem slegs met ’n klein knoppie beheer. Dit skep meer ruimte vir jou slimfoon of ander klein voorwerpe tussen die voorste sitplekke.
Dit is sinloos om ’n sewesitplekvoertuig te besit as jy slegs met moeite by die derde ry sitplekke kan inklouter. Ford se binneruim-ingenieurs het die monteerpunte van die tweede ry sitplekke om verder vorentoe te skuif, en sodoende toegang tot Everest se derde ry sitplekke te verbeter.
Wat van die laairuimte? Dit is ’n groot frustrasie wanneer jy ’n 4x4-stasiewa se sitplekke wil vou om bergfietse of meubels vir die kinderkamer te laai, en agterkom dat hulle nie heeltemal platvou nie. Everest bied ’n plat laairuimte wanneer die tweede en derde ry sitplekke gevou word, en jy betaal nie daarmee met ’n kleiner spaarwiel nie.
Meer krag, beter verrigting en ’n weelderiger, slimmer, binneruim. In beginsel behoort Ford se nuwe Everest die Fortuner te laat les opsê, maar wat van die vraagstuk aangaande prys?
Everest se 3 liter-V6- Platinum Everest kos R1 113 100, teenoor Toyota se vlagskip-Fortuner, die 2.8 GD6 4X4 VX outomaties, teen R870 000. Ford bied ook ’n 2 liter-dubbelturbo-Everest, wat nader in krag en prys is aan die Fortuner, maar selfs hierdie viersilinder-Everest kos R965 400.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.