Die Chinese veldtog om sukses in die motorryk te behaal, herinner aan geskiedkundige veldslae. Soms moet talle sneuwel om die vyand eindelik te oorrompel. In Suid-Afrika het Chinese handelsmerke soos GoNow, Geely, Chery, JAC en CAM die onderspit gedelf, maar die Chinese glo aanhouer wen.
Great Wall Motors (GWM) is een van die bittereinders. Hy besit ’n handelsmerk genaamd Haval, wat sportnutsvoertuie bou. Een van hulle is dié sewesitplek H9, wat ’n finalis in die SA Motorskrywersgilde se Motor van die Jaar-kompetisie is. Ook nie per ongeluk nie.
Die eerste leidraad dat dit nie net nóg ’n middelmatige Chinese ryding is nie, is twee skakelaars aan die voorste passasiersitplek se regterkant, omtrent daar waar vroulief se regterkieliebak is as sy aan jou linkerkant sit. Dit stel die bestuurder in staat om die passasiersitplek te verstel sonder om ’n joga-posisie in te neem om skakelaars aan die deur se kant by te kom. Iemand het sy verstand gebruik toe die H9 ontwerp is.