
Die Mahindra Pik Up-dubbelkajuit het begin as ’n goedkoop en eenvoudige werkesel vir geharde veldry. Maar namate die plaaslike bakkiemark uitbrei, met meer kopers wat bereid is om ’n dubbelkajuit te besit as gesinsvoertuig, het Mahindra gereageer met sy Karoo-weergawe.
Bybehore en luukshede gee die Pik Up-dubbelkajuit ’n meer fatsoenlike voorkoms, sonder dat veldryvermoë ingeboet word. Die jongste reeks vernuwings vir Mahindra is ’n Dusk-, Dawn- en Storm-weergawe van die Pik Up-Karoo.
Mahindra se beplanningspan het ’n reeks verbeterings aan die bestaande Pik Up-Karoo-dubbelkajuit aangebring. Wat is die noemenswaardige verskille tussen ’n gewone Mahindra Pik Up-Karoo weergawe en hierdie nuwe opsies? En regverdig dit die teenwoordigheid van ’n Indiese bakkie van R600 000 op die plaaslike mark?
Die Dusk-, Dawn- en Storm-bakkies het ’n tamaai staalbosbreker en GT Adventuro 245/75-bande. Mahindra roem daarop dat dat hierdie nuwe bosbreker die aanvalshoek verbeter vanaf ’n standaard Pik Up-dubbelkajuit se 34 grade, maar het nie ’n nuwe syfer beskikbaar nie.
Mahindra se Pik Up Dusk se laaibak het ’n roldeksel, wat nie aanwesig is op die Dawn nie, waar jy eerder ’n swaarvragdakrak kry, met ’n seillaaibakbedekking. En die Storm? Dit is slegs ’n ander kleur as die Dusk.
’n Mahindra of intreevlak-Hilux?
Al drie hierdie nuwe Mahindra Pik Up-bakkies bied leersitplekbekleedsel en ’n gevorderde vermaak-en-inligtingstelsel. Waar ander Mahindra-dubbelkajuitbakkies ’n 7 duim-tikskermvermaakstelsel gebruik, het die Pik Up Dawn, Dusk en Storm ’n 9 duim-skerm.
Hierdie vermaak-en-inligtingstelsel skakel moeiteloos met jou slimfoon, deur middel van Apple CarPlay en Android Auto, met ingeboude roetekaarte wanneer jy die vreemde ooptes wil verken – en buite bereik is van foon- of datasein.
Hierdie nuutste Mahindra Pik Up-dubbelkajuitbakkies is verseker nie rats in stadsverkeer of besonder haastig op die snelweg nie. Die 2,2 liter-turbodieselenjin lewer 103 kW en 320 Nm wringkrag, wat maar beskeie syfers is, maar met ’n laestrekratkas en agterasewenaarslot, loop Mahindra se Pik Up-bakkie heel skaflik in veldrytoestande.
Die koopprys van al drie Mahindra se jongste Karoo Pik Up-bakkies is dieselfde teen R614 999. Die idee van ’n Mahindra van R600 000 sou ’n paar jaar gelede lagwekkend gewees het, maar inflasie en die reusevraag na dubbelkajuitbakkies het Mahindra se spogbakkies na hierdie prys gebring.
Die kernvraag is of plaaslike kopers bereid is om R614 999 op ’n Indiese bakkie bestee. Toyota se Hilux 2.4 GD6 4x4-dubbelkajuit het 80 Nm meer wringkrag en beter padhouvermoë teen R636 000, maar nie die Mahindra se 9 duim-tikskerminligtingstelsel of veldryverfraaiings nie.
Mahindra se Dusk-, Dawn- en Storm-bakkies het baie veldrytoebehore en betreklik min kwesbare elektronika, wat waarskynlik aanklank sal vind by veldrygeesdriftiges wat waarde soek.