
As ’n sleutelvertoonstuk van Isuzu se tentoonstelling op vanjaar se Tokio-motorskou, het die jongste D-Max baie aandag getrek. Vir Suid-Afrikaanse bakkievolgelinge is hierdie ’n belangrike voertuig. Isuzu is maand ná maand onder die topvyf op Suid-Afrika se bakkieverkooplys.
Isuzu roem dalk op die D-Max-naam, maar hierdie nuwe bakkie is in beginsel die derdegeslag-KB en ’n broodnodige vernuwing.
Die huidige Isuzu-reeks is al agt jaar op die mark. Van die meganiese eienskappe en algehele ontwerp het erg begin verouder, veral met mededingers wat allerlei nuwe bakkies intussen bekend gestel het.
Verreweg die treffendste eienskap van hierdie nuwe Isuzu is die reuse-sierrooster, LED-kopligte en ’n nuwe enjinkapgieting. Isuzu-aanhangers sal bly wees om te verneem dat daar ook nou meer krag onder daardie enjinkap skuil.
As die wêreld se grootste vervaardiger van dieselenjins het Isuzu ? sterk naam vir duursaamheid en gehalte dieselenjins.
Die kragbron vir die nuwe D-Max-bakkie is 'n gevorderde weergawe van Isuzu se beproefde viersilinderturbodiesel (3 liter), wat nou 140 kW en 450 N.m lewer. Daardie syfers bied verbeterings van 10 kW en 20 N.m teenoor die huidige D-Max.
Ratkaskeuses is steeds slegs sesgang, wat 'n teleurstelling kan wees vir diegene wat gehoop het dat Isuzu beter sou meeding met Ford en VW se jongste outomatiese agt- en tiengangratkaste.
Al het die nuwe Isuzu nie soveel ratte soos baie van sy mededingers nie, is die ratkas se meganika verbeter met elektromeganiese skakeling, wat flinker ewenaarslot en laestrekratskakeling beloof.
Veldryvermoë is opgeknap ten opsigte van waterhindernisse, met die nuwe D-Max wat nou 800 mm se dieptedeurgang bied vergeleke met die huidige D-Max se 600 mm.
Binne het Isuzu die voorpaneel herontwerp, meer beheerknoppies op die stuurwiel gesit en daar is beter lugvloei na alle hoeke van die kajuit, te danke aan groter uitlate.
Een van die slim tegnologiese vorderings wat Isuzu op die nuwe D-Max toegepas het, is 'n afstandenjinfunksie. Dit beteken jy kan die Isuzu aan die luier sit, al is jy 3 m weg, wat die lugreëling kan laat sirkuleer en beteken dat wanneer jy klaar gestroop of jou beeste klaar geïnspekteer het, jy in ? verkoelde bakkie se kajuit klim.
Veiligheidskenmerke is nog 'n gebied waar Isuzu se ingenieurs vordering gemaak het. Die voorste remskywe is nou 20 mm groter (teen 320 mm in deursnee) en daar is op- en afwaartse hellingbeheer as deel van die Isuzu se bestuursbystandstelsels.