
Ford se Ranger Raptor en Toyota se Hilux GR-S is voorbeelde van buitengewone bakkies wat duur is, en sterk vraag geniet. Maar wat van die land se enigste bakkie-eie handelsnaam, Isuzu? Die Japanse bakkiekenners het in 2019 probeer met ’n spogweergawe van die D-Max, maar dit het nie besonder goeie aftrek gekry nie.
Isuzu se nuwe geslag D-Max bied ’n meer gevorderde platform, en die kans is goed dat daar weer ’n spogweergawe op eie bodem gaan wees. By die onlangse NAAMSA-saamtrek in Kyalami het Isuzu ’n AT35-weergawe van die D-Max as bemarkinglokaas vertoon.
Die vorige Isuzu D-Max AT35 het gesukkel op grondpaaie omdat die reusebande en die veringstelsel nie om dieselfde vuurmaakplek gesit het nie. Isuzu belowe ’n meer samehorige ombouing hierdie keer.
Met 50 mm meer grondvryhoogte en baie groter aanval- en vertrekhoeke is die AT35 ’n Isuzu-dubbelkajuit wat nie terugstaan vir strawwe veldryroetes nie. Die voorste aanvalshoek is 35 grade (’n verbetering bo die gewone D-Max se 30 grade), en 266 mm se grondvryhoogte is nie te versmaai nie.
Die reuse 35 duim-bande van BFGoodrich het baie meganiese vastrapvermoë danksy hul breë loopoppervlak (315/70) en Isuzu het slimmer gewerk met die veringverstellings. Bilstein verskaf ’n stel skokbrekers, kronkelvere en ander bybehore wat verseker dat die nuwe AT35 nie so vaag stuur en reageer op ongeskraapte grondpaaie nie.
’n Ander verbetering oor die vorige geslag D-Max AT35 is ’n sluitbare agterewenaar.
’n Bieliebakkie wat kan werk
Om dubbelkajuitbakkies in Suid-Afrika te verhandel, is makliker as om ’n swartwitpens op ’n wildveiling te verkoop. Maar as Isuzu besluit om die tweede geslag AT35 plaaslik te bemark, sal dit beter verkoop as die vorige weergawe? Dit is ’n ope vraag, maar danksy die meer gevorderde onderstel en Bilstein-skokbrekers behoort daai senuagtige grondpadkwessies iets van die verlede te wees.
Waar Isuzu iets van waarde kan bied in die mark vir bieliebakkies, is dravermoë. Ford se Ranger Raptor is sonder twyfel die mees bekwame dubbelkajuitveldvoertuig, maar die prys daarvoor is verminderde dravermoë. ’n Ranger Raptor se agtervering kan slegs 717 kg dra, wat minder is as ’n gewone Ranger-dubbelkajuit se 980 kg.
Isuzu se D-Max AT35 is gebou om 1 075 kg in die laaibak te dra, wat baie meer is as ’n Ranger Raptor of Jeep se Gladiator. Vir diegene wat ’n dubbelkajuit met bieliebakkievoorkoms soek en volwaardige 1 ton-dravermoë, is die D-Max AT35 ’n keurige oplossing.
Isuzu se bemarkingplan vir die AT35 kort nog skaafwerk en daarom is die prys vir die D-Max-bieliebakkie nog nie vasgestel nie. Maar dit sal ongetwyfel die kroonweergawe word in Isuzu se plaaslike reeks, waar die duurste opsie tans ’n V-Cross 3.0 Ddi vir R835 100 is.
Met die AT35 se breër wielboë, BF Goodrich-bande en Bilstein-vering sal Isuzu se bieliebakkie waarskynlik ’n sewesyferpryskaartjie dra.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.