
Ford se nuwe Ranger-reeks is kleiner as voorheen, met 24 modelle pleks van 37. Al die dubbelkajuit-bakkies is nou beskikbaar, maar boere wat ’n enkelkajuit-Ranger wil koop, moet wag tot vroeg volgende jaar.
Die intreevlak vir nuwe Ranger is ’n SiT Base 4x2-handrat, doelgerig vir plaas en mynwerk, teen R486 000. Met 16 duim-staalwiele en vinielsitplekke, en die feit dat dit nie ’n luukse bakkie is nie, is daar wel ’n verbasende vlak van tegniese gevorderdheid.
As jy daai slimfoon of GPS wil laai, het die goedkoopste Ranger USB A- en C- proppe. Inligting en vermaak word bestuur deur ’n 10,1 duim-tikskerm, wat gelaai is met Android Auto en Apple CarPlay. Die intreevlak-Ranger het ook sewe lugsakke en elektroniese stabiliteitbeheer wat aanpas wanneer jy sleep.
Vir onder R500 000 bied die Ranger uitstekende waarde en met ’n 2 liter-enjin wat 125 kW en 405 Nm lewer, is hierdie ’n bakkie wat gemaklik ’n waentjie vee dorp toe sal kan sleep op die langpad.
Dit is sekerlik die mees noemenswaardige bakkie in Ford se nuwe Ranger-reeks, hoewel dit die duurste is. Volkswagen het bewys dat Suid-Afrikaanse dubbelkajuit-bakkiekopers nie skaam is om te betaal vir V6-turbodieselkrag nie. Van die oorspronklike Amarok-reeks is meer as twee derde teen sy einde met ’n V6-enjin verkoop.
’n Breker van ’n bakkie
Ford speel slim met hul 3 liter-V6-Ranger, wat slegs beskikbaar is as ’n 4x4-dubbelkajuit in die Wildtrak-toerustingvlak. Die luukse binneruim het ’n herlaai-oppervlak vir jou slimfoon (minder moeite as met kabels) en Bang & Olufsen-klankstelsel met tien luidsprekers.
Kragpunte is goud werd in enige bakkie. Die Ranger Wildtrak V6 se laaibak het ’n 12 V-uitlaat met 240 V-toevoer danksy ’n 400 W-omskakelaar. As jy ’n sterk kragpunt soek vir elektriese toerusting terwyl jy kamp of in die veld werk, sal Ford se Ranger Wildtrak V6 gedy.
’n Luukse binneruim en laaibakkragpunte nieteenstaande is die 3 liter-V6-turbodieselenjin Ford se groot troefkaart op die plaaslike mark vir dubbelkajuitbakkies. Met 184 kW en 600 Nm wringkrag is daar geen Hilux wat kan kers vashou by ’n Ranger V6 nie. Ford se meganiese voordeel word nog groter wanneer die outomatiese tiengangratkas bygereken word. Die Ranger V6 het vier ratte meer as enige Hilux, en dit beteken beter versnellerreaksie en ’n laer dieselverbruik.
En as jy senuagtig is vir daai nou parkeerruimtes in die stad kan die Ranger Wildtrak V6 4x4 self in ’n loodreg of parallelle parkering bestuur, teen lae spoed. Al die stuur-, versneller- en remaksies word deur Ford se jongste sagteware beheer.
Al is die Ranger Wildtrak V6 4x4 ’n duur bakkie teen R953 500, bied dit relatiewe waarde, veral in historiese oënskou. Toe Mercedes-Benz sy V6 X-Klas dubbelkajuit-bakkie in 2018 bekend gestel het, was die pryskaartjie R973 188. Dit beteken dat Ford ’n baie beter dubbelkajuit-V6-turbodieselbakkie nou in die mark stoot, vier jaar ná Mercedes-Benz, teen ’n laer prys.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.