
Mazda-bakkies is eerlik en hardwerkend, maar die tweede geslag BT-50 se voorkoms het nog altyd gelol.
Ná amper tien jaar op die mark het Mazda nou die derde geslag BT-50 onthul en die nuwe dubbelkajuit lyk baie beter.
Die BT-50 se voorkoms is nou meer skaflik met die ontwerp wat beïnvloed is deur Mazda se CX-reeks sportnutsvoertuite. Die hoofligte is kleiner in ’n netjieser sierrooster, wat baie beter lyk as die tweede geslag BT-50. Aan die agterkant is daar herontwerpte agterligte, met ronde remligte.
Binne is die nuwe bakkie se lys verbeterings lank. Die BT-50 het nou ’n volledig digitale instrumentpaneel en 9 duim-tikskerminligtingstelsel, wat maklik met jou Apple- of Android-slimfoon skakel. Anders as baie teenstanders is die nuwe BT-50 ook toegerus met ’n diepteverstelbare stuurwiel, wat ’n gemakliker bestuurposisie lewer.
Die nuwe BT-50-bakkie ry nou op ’n D-Max-onderstel danksy ’n ooreenkoms wat Mazda met Isuzu aangegaan het. Isuzu verskaf ook die 3 liter-viersilinderkragbron.
Met die verandering van Ford se 3,2 liter-vyfsilinderenjin na Isuzu se 3 liter-turbodieselenjin kort die nuwe BT-50-enjin verrigting in. Kraglewering is 140 kW en daar is 450 Nm wringkrag teen 1 600 r/min. Daardie syfers is dalk 7 kW en 20 Nm minder as die bestaande BT-50 met die Ford-enjin onder die enjinkap, maar op papier is die beloning vir minder krag veel beter dieselverbuik.
Sleep- en dravermoë is ook skaflik, met Mazda wat die BT-50 se agtervering ontwerp het vir 1 065 kg se vrag in die laaibak, en 3 500 kg se lading op die sleephak.
Die nuwe BT-50 is 79 mm korter as sy voorganger, maar 20 mm breër en die dakhoogte is 47 mm laer. Dié laaste syfer is veral noemenswaardig, omdat dit hierdie nuwe Mazda-dubbelkajuit ’n laer swaartepunt gee, wat meer voorspelbare hantering tot gevolg sal hê, ook in ’n nooduitswaai-oomblik.
Veiligheidskenmerke is ook ’n sterkpunt met Mazda se derde geslag BT-50 wat onafhanklike noodremaksie en outonoom aanpasbare togbeheer het.
Die nuwe BT-50 is in 4x2 en 4x4 beskikbaar met ’n sesgangratkas – handrat of outomaties. Veldryers wat ’n 4x4-weergawe verkies, sal toegang hê tot ’n laestrekratkas en ewenaarslot op die agteras. Mazda het nog nie veldryafmetings bekend gemaak nie, maar die nuwe BT-50 behoort ’n soortgelyke grondvryhoogte as Isuzu se D-Max te hê, wat staan op 220 mm.
Mazda se nuwe BT-50 behoort soos Isuzu se volgende D-Max in 2021 in Suid-Afrika beskikbaar te wees.