Ford en Mazda se bakkiereekse was dekades lank tegniese spieëlbeelde van mekaar. En vandag is Mazda se BT-50 ’n meganiese tweeling van Isuzu se jongste D-Max.
Maar watter invloed het ’n handelsnaam en ervarings rondom naverkope-diens op kopers wat moet kies tussen twee meganies eenderse bakkies? Hierdie vraagstuk dra sterk gewig met betrekking tot Ford en Volkswagen.
Die Amerikaners en Duitsers het ’n vennootskap gesmee om ’n tweeling-bakkiereeks te skep en bemark, met Ford se nuwe Ranger wat die hoofaandeel het. Die sinvolheid hieragter is duidelik. Ford bou van die wêreld se bekendste bakkies en sy ingenieurs is kenners op die gebied. Hoekom sou jy ’n nuwe Amarok koop as dit slegs ’n Ranger is met geringe veranderinge aan die bakwerk en oppervlak-ontwerp?