
Met die nuwe Amarok was plaaslik gebou word, in ’n ooreenkoms met Ford se Silverton aanleg in Pretoria, het Volkswagen Suid-Afrika die besonderse geleentheid gehad om as gasheer op die tree vir Amarok se wêreldwye bekendstelling. Dit ondanks die feit dat Amarok eers vroeg in 2023 by plaaslike handelaars beskikbaar sal wees.
Ná maande se sketse en steelfoto’s om die Amarok ontwerp te terg, is die eerste indrukke van Volkswagen se nuutste dubbelkajuit gunstig. Volkswagen hoop dat geringe verandering tussen Amarok en Ranger voldoende sal wees om die geleentheid te skep vir slim bemarking en ’n redelike Duitse markaandeel in die plaaslike dubbelkajuitmark.
Die enjinkeuse is nog nie aangekondig nie, maar jy kan seker wees dat die Amarok Ford se 3 liter-V6-turbodiesel sal gebruik, wat 184 kW en 600 Nm lewer. Hierdie enjin word voorsien met beter seëls om stofbesoedeling van die binnekant van die Amarok se enjin en die olie teen te werk.
Dié Ford-enjin is nie so wakker soos Audi se ewe groot enjin, wat in die vorige geslag Amarok groot aftrek gekry het nie. Die Ford-enjin het sy oorspring in ’n Land Rover-ontwerp, wat beteken dat stadige veldrysnelhede en die sleep van swaar vragte kinderspeletjies behoort te wees.
Die ander groot voordeel van die Ford-enjin is ’n laestrekratkas, iets was ontbreek het in die laaste weergawes van die eerste geslag Amarok.
Vir werkverrigting die nuwe Amarok nie skaam nie. Die sleepvermoë is verbeter met 500 kg tot 6,5 ton, terwyl die agteras 1 190 kg in die laaibak kan dra.
Al leen Volkswagen die 12,3 duim- vertikale tikskerminligting-en-vermaakstelsel by Ford, is die grafika en sagteware Duits. ’n Hindernis met die meeste hedendaagse Volkswagens is die gebrek aan USB A-skakelpunte, wat ’n eie kabel of omskakelaar benodig, pleks van die meer bruikbare USB A-standaard. Of albei.
Omdat die Amarok ’n tweelingontwerp is van die nuwe Ranger, het Volkswagen se dubbelkajuitbakkie USB A- en USB C-proppunte vir jou slimfoon, GPS of enige ander klein elektroniese toestel wat in die binneruim moet diens doen.
Klankgehalte word al hoe belangriker vir kopers van dubbelkajuitbakkies. As jy op die langpad na jou gunstelingradioprogram of podsending wil geniet, is luidsprekergehalte van waarde. Hier verskil die Amarok en Ranger, met die Amarol wat ’n Harman Kardon-klankstelsel gebruik, terwyl Ford Bang & Olufsen-luidsprekers verkies.
Die ironie is natuurlik dat Harman Kardon ’n Amerikaanse klankmaatskappy is, maar in die Duitse bakkie gebruik word, terwyl Bang & Olufsen Deens is en deur Ford verkies word.