
Land Rover word nie om dowe neute as die baanbreker van vierwielaandryftegnologie beskou nie en dit voel mos al asof hierdie nuwe Discovery net dalk die kersie op die viertrekkoek kan wees.
Die nuwe Discovery is ontwerp vir ’n podiumplek wat inherente veldryvermoë betref: Dit het nie net ’n groter grondvryhoogte nie, maar kan ook steiler hellings en dieper waterdeurgange (tot 900 mm) suksesvoller as sy voorganger aandurf.
En, met hierdie mondvol is die nuweling se padmaniere verfyn en veiligheid verbeter. Alles in netjies verpak in ’n eenvoudige bystandspakket wat die lewe vir die bestuurder net soveel makliker maak.
Vastrapvermoë verbeter
Vir die afskop, is daar die multi-modus terreinreaksiestelsel (Terrain Response 2) wat die grondoppervlakte outomaties moniteer en die voertuig outomaties daarvolgens instel vir optimale vastrapbeheer èn ritgerief. Hierdie stelsel kan ook met die hand deur die beheerdraaiknop ingeskakel word vir toepassings soos algemene gebruik, gras, gruis en sneeu, modder en slote, sand asook klippe.
Elk van hierdie verstellings bied die beste toepaslike kombinasie van versnellerposisie, aandryfstrelselkeuse, stuurreaksie, veerstelselaanpassing asook vastrapbeheer. Die nuwe Discovery bied veelterrein-vorderingsbeheer (ATPC - All-Terrain Progress Control) vir werklike uitdagende ryoppervlaktes.
Hierdie stelsel handhaaf die optimale voertuigspoed van tussen 2 km/h tot 30 km/h vir die spesifieke terrein. Die bestuurder kan dan beter konsentreer op die bestuursaksie en om hindernisse suksesvol te oorkom.
Goeie hantering
Die gevorderde teensluitremstelsel (ABS) speel ’n vername rol in die aktiewe en passiewe veiligheid van die nuweling. Dit bied nie net goeie hantering wanneer skielik op los gruis (òf met slegs twee wiele op gruis en twee op teer!) gerem moet word nie, maar help ook met die wegtrekslag teen opdraendes asook met voertuigbeheer teen afdraendes. Tel gerus daarby elektroniese vastrapbeheer en bakrolstabiliteit.
Maar die nuwe Discovery is ewe tuis in die stad en op die oop pad. Dit is ’n gerieflike, verfynde en veelsydige voertuig en bied onder meer parkeerhulp en gesofistikeerde blindekolmonitering.
Die nuweling behou die vorige reeks se twee 3.0 l V6-enjins: Die Td6-turbodieselenjin (190 kW/600 Nm) en die Si6-petrolenjin (250 kW/450 Nm). Die reeks se pryse begin by R980 000 (BTW ingesluit).