
Suid-Afrika se naasgunstelingbakkie het ’n reeks nuwe modelle wat broei. In twee baie uiteenlopende wêreldmarkte het Ford pas splinternuwe Rangers bekend gestel wat verseker van belang sal wees vir plaaslike bakkie-aanhangers.
Australië se bakkiemark is die naaste aan Suid-Afrika s’n en hy spog nou met ’n nuwe Tradesman-weergawe van Ford se Ranger. Hierdie bakkie is gemik op boere en ambagsmanne.
Spoggerigheid is nie Ford se oogmerk met die Tradesman nie. Die bakkie het betreklik klein 16 duim-wiele, wat genoeg ruimte in die wielkaste skep vir groot bande. Soos enige ervare veldryer weet, groter bande bied beter vragvermoë en ritgehalte op grondpaaie en op strawwe sand- of rotsroetes.
Ander karaktertrekke wat die Tradesman van Ford se Ranger-bakkies onderskei, is ’n klein bosbreker met ’n LED-ligreghoek daarop gemonteer.
Suid-Afrikaanse volgelinge van Ford sal veral kennis neem daarvan dat die Tradesman slegs met die ouer 3,2 liter-turbodieselenjin beskikbaar is. Hierdie beproefde vyfsilinderenjin word steeds verkies deur diegene wat swaar vragte laai en dubbelaswaens haak en sleep.
Aan die ander kant van die wêreld, in Europa, stel Ford nog ’n Ranger-nuweling bekend. Thunder is ’n opgekikkerde weergawe van die Ranger Wildtrak, bekend aan plaaslike bakkiekenners as die reeks se kroonmodel.
Gemik op ’n leefstylkoper spog die Ranger Thunder met ’n eiesoortige grys verfafwerking en herontwerpte sierrooster, versier deur rooi verfraaiings. Die voor- en agterligte is verdonker en die Thunder se misligte kry swart omhulsels.
Om diefstal van jou laaibak-vrag te beperk het die Ranger Thunder ook ’n sluitbare rolbedekking. Binne is Thunder-kentekens op die sitplekbekleedsel ingewerk en rooi stiksel op die stuurwiel en voorpaneel.
Meganiese verskille tussen Ford se Tradesman en Thunder wys duidelik op die uiteenlopende kopers vir hierdie twee nuwe Ranger-bakkies. Thunder loop op baie groter 18 duim-wiele, wat hoofsaaklik gekies is vir voorkoms, al word algemene ritgehalte en klouvermoë op ruwe terrein effens ingeperk.
Verreweg die vernaamste onderskeiding is enjinkeuse, waar Ford besluit het om Thunder slegs te bemark met 'n 2 liter-bi-turbodieselkragbron. Hierdie 157 kW-enjin, wat skakel deur ’n outomatiese tiengangratkas, bied beter verrigting en laer diesel verbruik as ’n Tradesman se 3,2 liter-enjin.
Nog nie een van dié Ranger-bakkies is al in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar hulle gee duidelike leidrade oor wat in die volgende paar maande met Ford Suid-Afrika se dubbelkajuit-bakkiereeks kan gebeur.
Landbouweekblad is steeds beskikbaar op winkelrakke, terwyl sake by https://t.co/J5CsarOmv3 en @landbouweekliks vlot verloop. Lees hier wat jou te doen staan indien jy sukkel om die tydskrif in die hande te kry én hoe jy digitaal kan lees. https://t.co/Ug6tJEMNfl
— landbou.com (@landbou) May 12, 2020