Ná ’n lang wag is die sewende geslag van die Isuzu-bakkie, wat plaaslik gebou word, eindelik in April in Suid-Afrika bekend gestel. Volgens mnr. Dominic Rimmer, tegniese hoof van Isuzu Suid-Afrika, wou die vervaardiger ’n bakkie bou wat sportiewe stilering bied, asook uitnemende gerief en veiligheid. Het die span van Japan, Thailand en Suid-Afrika dit reggekry?
Net aan sy voorkom te oordeel, lyk die D-Max nie heeltemal nuut is nie. Moet egter nie dat dit jou flous nie. Die nuwe onderstel het frisser stawe van ligter en sterker staal om meer weerstand teen botsings te bied. Beter hegpunte tussen die onderstel en kajuit help om geraas en vibrasie te verminder.
Die afstand tussen die voor- en agteras is met 30 mm verleng. Gapings tussen bakpanele en tussen die kajuit en die laairuim is kleiner as voorheen, wat lugdinamika verbeter. Isuzu sê hy het die voorvering herontwerp sodat die bakkie minder in draaie oorleun, stabieler is en die stuur minder vaag is.