Toe die “CVT-ratkas” aanvanklik by motors kop uitgesteek het, was dit nie net die gepaardgaande gekerm van die enjin wat gepla het nie. Met sy oneindige ratverhoudings, danksy ’n katrolstelsel, moes hy die enjin deurgaans teen sy doeltreffendste omwentelingspoed laat loop om brandstof te help bespaar.
Dit is ’n gawe teorie, maar die CVT, of palwisselratkas, het selde daarin geslaag om brandstofverbruik te laat briek aandraai. In sowat 15 jaar het die ingenieurs egter vordering gemaak, soos die Creta met sy CVT-transmissie bewys. Hyundai noem dit IVT, met die I wat vir “intelligent” staan, pleks van C vir “continuous”.
Die vervaardiger het die IVT só geprogrammeer dat dit voel asof hy ses ratte het, omdat motoriste dit so verkies. Ek het die Creta 1.5 Executive van Pretoria na Hermanus gery en hom goed leer ken.