
Die verkopers is mnre. Flip de Bruyn en Mark Gietzmann van Hageland Ile de France. Die koper is mnr. Vaughan Okkers van Solstice Stud Farm. Volgens Gietzmann is daar ‘n groeiende behoefte onder kommersiële kopers vir Ile de France-diere, veral ooie. “Ons sien regtig groei in ons aantal lede by die genootskap en daar is ‘n groter aanvraag na teelmateriaal.”
Op dieselfde veiling is twee ooie van Hageland Ile de France vir R20 000 elk verkoop, een aan mnr. Phillip van der Walt en die ander aan mnr. Arrie Klopper van Dorsland Vleis en Stoet.
Die gemiddelde prys vir stoetramme was R25 750 en R7 700 vir stoetooie. Die gemiddelde prys vir ooie met lammers was R6 125, en vir stoetooie met lammers R12 666.
Mnr. Corné du Plessis van CdP Auctioneers was die afslaer.