
Die duurste bul NFS 19-039 is teen R800 000 aan mnr. Renier Fouché van Weiveld Bonsmaras verkoop. Die vorige rekordprys is in 2011 behaal toe ’n bul vir R775 000 verkoop is.
Die gemiddelde prys vir die 45 bulle wat op die veiling aangebied is, was R157 000, wat goed vergelyk met 2020 se gemiddelde van R122 000 en 2019 se R104 825. Vroulike stoetdiere is teen gemiddeld R53 471 (R47 547 in 2020) verkoop. Kommersiële koeie (3-in-1) het gemiddeld R36 400 behaal (R36 400 in 2020), dragtige kommersiële verse gemiddeld R23 040 (R19 138 in 2020) en kommersiële verse gemiddeld R16 303 (R12 783 in 2020).
Die afslaer was mnr. Johan van der Nest, wat die 38ste keer dié veiling waargeneem het. Die veiling is vanjaar regstreeks en aanlyn via SwiftVee en CDP Afslaers gehou. Die veiling is goed bygewoon met 313 geregistreerde kopers teenoor 224 in 2020.
Die omset van die veiling was ongeveer R24 miljoen (BTW uitgesluit) waarvan 49% deur swart boere bygedra is. Ongeveer 25% van die aantal bulle het na stoettelers gegaan. Volgens mnr. Nick Serfontein, hoof van die Sernick-groep, kan vanjaar se hoër pryse toegeskryf word aan boere wat weer kuddes opbou, wildtelers wat terugkeer na beesboerdery, goeie graanoeste en nuwe vertroue in die landbou. “Met die uitsondering van enkele Bonsmaraveilings was veilingspryse gemiddeld ongeveer 30% hoër sedert die begin van 2021 wat ‘n groot sprong is. Dit geld vir bulle sowel as vroulike teeldiere.”
Serfontein sê wanneer uitvoere hopelik binnekort styg gaan dit die bedryf verder stimuleer. Die ekstensiewe bedryf lyk dus baie goed maar die intensiewe vleisbeesbedryf gaan waarskynlik nog ‘n tydlank klippe kou.