
Die twee organisasies het reeds in 2019 besluit om hande te vat en die nuwe ekspo op die landboukalendar te plaas, maar covid-19 het dié planne vir twee jaar op die ys gehou. Die twee sê luidens ’n gesamentlike verklaring die lewendehawebedryf in Suid-Afrika is aan die groei en is ’n belangrike deel van die plaaslike ekonomie. Hulle sê die groei was duidelik sigbaar in die feit dat Alfa oor ’n tydperk van vier jaar gegroei het tot die beste lewendehawe-ekspo in die land.
Die volgende logiese stap, aldus die verklaring, sal wees om dit nóg groter te maak. Met jare se suksesvolle aanbiedinge is Nampo-park die ideale plek waar Alfa sy vlerke kan sprei. Volgens hulle is Alfa nie ’n gewone ekspo nie, maar bied dit verskeie unieke platforms vir besigheidsnetwerkgeleenthede regoor Afrika.
Hulle meen daar bestaan ook ’n groot behoefte onder boere vir ’n jag-en-buitelewe-ekspo met ’n prakitese aanslag. Omdat lewende hawe, die buitelewe en jag aspekte van die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap is wat mekaar aanvul, bied dit ’n kans op ’n wenresep.
Daar gaan geleenthede wees vir praktiese demonstrasies van onder meer 4x4-voertuie, woonwaens, kampeer- en jagtoerusting, en daar is selfs die moontlikheid van ’n skietbaan. Terselfdertyd is Nampo-park tydens die ekspo die tuiste van die nasionale SARRC-tydren en besoekers sal bekende renjaers in aksie kan sien.
Die lewendehawe-deel sluit in vleis- en melkbeeste, kleinvee, varke en bokke. Dit sluit ook in die nasionale vleisbees-interraskampioenskap, die junior interraskompetisie vir landbouskole, verskillende prestasiekampioenskappe en die Money maker-kwalifiseerders vir groot- en kleinvee. Daar is ook jeugprogramme en mini-ekspo’s met werksperde, werkshonde, konyne en pluimvee.