
Mnr. Heinie du Toit, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap, het tydens ’n sessie oor die geleenthede te midde van infrastruktuur-struikelblokke in Suid-Afrika gesê die vergelyking is al getref dat boere en die landbou die ruggraat van die land is, maar infrastruktuur, soos paaie, spoorweë, kragtoevoer en hawens, is uiters belangrik.
“Ons weet almal as daar fout is met die ruggraat, is die lyf lam. En, ja, daar is fout met ’n paar werwels, maar ten spyte daarvan groei die land se uitvoer.” Du Toit het gesê volgens markinligting is die Wes-Kaap verantwoordelik vir 55% van Suid-Afrika se uitvoer.
Mnr. Glen Steyn, projekbestuurder van die Kaapstadse hawebestuur by die Wes-Kaap se departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het gesê die uitvoer van tafeldruiwe, appels, sitrus en wyn gaan na verwagting in die volgende vyf jaar met 26% toeneem. “Ons probleem is om seker te maak die logistieke ketting is gereed vir die groei in volume, want as die logistiek nie gereed is nie, versmoor dit groei en produksie.”
Kernvrugtebedryf onder druk
Me. Mariette Kotzé, groepsbedryfsbestuurder by Hortgro, het gesê hulle hou die situasie by veral die land se hawens met groot belangstelling dop, want die kernvrugtebedryf kan nie nog ’n jaar met soveel uitvoerprobleme soos vanjaar hanteer nie. Die bedryf het talle probleme met uitvoer en produksie ervaar, en hy hoop dat besluite wat geneem is om die logistieke stelsel meer vaartbelyn te maak, vinnig toegepas gaan word.
“Ons is gemaklik dat die verskillende belanghebbendes, soos die spoorweë en die hawens, verstaan wat die risiko’s is van ’n stelsel wat nie werk nie. Die besef dat ons nie ’n herhaling van hierdie seisoen kan hê nie, is daar. Maar of ons by die omdraaityd gaan kan hou, is ’n ope vraag. Ons weet almal van die dag dat ’n besluit geneem word tot dit toegepas word, duur twee jaar of langer. Ek is redelik seker dat ons die regte mense om die tafel het en dat almal hard werk om te voorkom dat vanjaar homself herhaal.”
Kotzé het gesê hoewel daar groot klem is op die probleme om die produk uitgevoer te kry, konsentreer hulle ook op produsente se stelsels ten opsigte van produksie wat minder ingestel is op volume gelewer en meer op wat die markaanvraag is. “Daar is nou ook ’n denkverskuiwing op plaasvlak. Dis nou meer markgeorïenteerd om seker te maak jy kry die regte produk op die mark en sodat jy nie die prys erodeer nie.
“Ek wens ek kon in ’n kristalbal kyk om te sien wat die toekoms inhou, maar ek dink ons het nog ’n rowwe 18 maande voor ons.”
Samewerking en privaat-openbare ooreenkomste
’n Voorbeeld van goeie samewerking tussen verskeie belanghebbendes wat tydens die sessie genoem is, was Senwes en NWK wat betrokke geraak het om paaie in Noordwes wat weens die swaar reën beskadig is, te help herstel. “Sake moes voortgaan en ons moes help,” het mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, gesê.
Senwes het bygedra vir die rekening vir die arbeid, en die boere vir die brandstof. Hulle het die plan aan die plaaslike regering voorgelê. Dis binne ’n week aanvaar en werk kon voortgaan.
Dr. Kandas Cloete, ’n senior analis van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), het gesê samewerking moet verseker dat belastinggeld wat boere en belastingbetalers vir dienste betaal, juis daarvoor aangewend word.
Steyn sê ’n model om ’n instelling soos die Kaapstadhawe om te draai bestaan uit die volgende elemente: politieke wil, soos ’n staatshoof of premier wat sy of haar steun vir ’n projek of omdraaistrategie gee; die bou van vertroue tussen die verskeie partye betrokke sodat die magsverhoudings belyn kan word; betrek kundiges met tegniese kennis om veranderinge voor te stel en gesels met belanghebbendes van buite om hulle in te sluit.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.