
Twee jaar lank het me. Marjolijn Malan, organiseerder van die uitstalling van die Overberg se inheemse flora in die BKB-saal op Nampo Kaap, in haar kop gebou aan ’n reuse-koningprotea vir die uitstalling van die omgewing se unieke flora. “Ek het die eerste kanolastokke, wat die middelste stuifmeeldrade vorm wat na die dak toe opgaan, reeds twee jaar terug gepluk. En die idee het gegroei.”
Met behulp van mnr. Dirk Giliomee, ’n plaaslike boer, het Malan met 626 m se ysterstawe en 102 m2 sisal die protea met 46 blomblare gebou. Dis ongeveer 4 m hoog, en die omtrek daarvan aan die bokant is 12,8 meter.
Malan sê die voëls van die omgewing inspireer haar ook, en dis hoekom sy ’n kraanvoël uit proteas en ander inheemse blomme saamgestel het. Sy het sewejaartjies, kapokbossie, venus-protea en aarbei-sewejaartjies gebruik om aan dié kraanvoël gestalte te gee.
Malan bied vanjaar ’n kompetisie aan waarin Nampo Kaap-besoekers kan stem vir hul gunsteling-blommerangskikking deur vroue van die omgewing met die tema “Fifty shades of green”, oftewel vyftig skakerings van groen. “Ons kry baie goeie terugvoer van besoekers hieroor en hulle geniet die speelse tema baie.”
Ek het met haar gesels oor die proses rondom die ontwerp, bou en saamstel van die reuse-koningprotea, wat ’n mens nie met een skoot van ’n kamera kan vasvang nie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.