
Naspeurbaarheid en biosekerheid in die veebedryf is twee temas wat gereeld debat uitlok, maar waarvoor oplossings nie so eenvoudig is nie. Dié tema is gister bespreek op ’n paneelbesprekingsessie van AgriVoice en die Noordwes-Universiteit op die 2022 Nampo-oesdag.
Me. Elandri de Bruyn, bedryfshoof van Wagyu Suid-Afrika, het gesê die feit dat dié bedryf naspeurbaarheid op twee vlakke toepas en kameras gebruik om die marmering van karkasse te gradeer, het hom in staat gestel om deure wat internasionaal toeswaai tydens die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, oop te skop. “Maar ons wil nie gedurig deure moet oopskop nie, ons wil hê dat dit oop moet kan bly ten spyte van probleme.”
Sy het gesê hulle het besef hoe belangrik die insameling van data oor hul diere is. Dis noodsaaklik dat dié data op die regte maniere gebêre en aan die regte mense beskikbaar gemaak moet kan word.
Mnr. Dawie Roodt, senior ekonoom van die Efficient-groep, is ’n groot voorstander van blokkettingtegnologie. Hy glo dit gaan in die toekoms al hoe meer in alle bedrywe gebruik word. “Die veilige bêre van inligting skep al hoe meer internasionale handelsgeleenthede, want die uitruil van inligting ken geen grense nie. Veilige inligting oor eienaarskap, genetiese eienskappe en so meer sal handel baie vergemaklik en dit laat jou toe om meer sakegeleenthede te ontsluit.”
‘Ons moet net begin’
Mnr. André Vos, uitvoerende hoof van Vleissentraal, het gesê naspeurbaarheid en biosekerheid is van onskatbare waarde vir die bedryf, want dis broodnodig dat afslaers gesonde diere moet verkoop. Wat die probleme rondom die toepassing van ’n naspeurbaarheidstelsel betref, het hy gesê: “As jy in jou eie bedryf ’n verskil wil maak, moet jy maar ’n paar rand bestee en vooruit gaan.”
Hy het gekonsentreer op die vinnige aanpassings wat die veebedryf die afgelope jaar weens die bek-en-klouseeruitbrekings moes maak. “Alle veilingskrale identifiseer nou siek diere. Ons is nou ligjare voor van waar ons ’n jaar gelede was. As die staat nie sy volle rol kan vervul nie, ons moet dit self doen.
“As ons kon aanpas deur ’n dier vas te maak en te kyk of hy of sy sere in die bek het, kan dit nie so erg wees om naspeurbaarheid van die grond af te kry nie. Ons moet net begin.”
’n Facebook vir beeste?
’n Stelsel wat ’n oplossing kan bied, behoort aan die einde van die jaar beskikbaar te wees. Mnr. Kobus van der Merwe, direkteur van ID Scan, het gesê die stelsel wat hulle ontwikkel, is gegrond op die neusafdruk van ’n bees. Egiptenare het in 1922 bevind dat elke bees ’n unieke neusafdruk het, soos ’n mens se vingerafdruk.
“Dit stelsel sal na verwagting teen die einde van die jaar kommersieel beskikbaar wees en ek meen dit kan die bedryf op sy kop draai. Soos Facebook vir mense, gaan ons ’n ‘neusboek’ vir beeste hê.”
Van der Merwe het gesê die eienaar kan ’n dier se volledige geskiedenis op die stelsel laai, asook foto’s en video’s vir identifikasie. As die eienaar dit in die veld laai, sal die stelsel dit bêre en oplaai sodra die boer weer binne bereik van ’n internet-verbinding is. Die stelsel sal ook die geografiese ligging van waar die foto geneem is, kan oplaai, wat kan help met biosekerheid, veral ten opsigte van die bek-en-klouseer-beheersone.
Van der Merwe het gesê hulle skakel met verskeie internasionale internetspesialiste om toe te sien dat die inligting veilig is. Verder kan die polisie die stelsel gebruik om die eienaar op te spoor van ’n bees wat vermoedelik gesteel is.
“Die polisie sal die dier volgens sy brandmerk of oorplaatjie kan identifiseer. Hulle sal dan met ons in verbinding moet tree om die eienaar te kontak, want die eienaar en die dier se inligting sal ingevolge wetgewing wat persoonlike inligting beskerm, nie toeganklik wees vir ’n gebruiker van buite nie.”
Die stelsel word tans met die samewerking van 30 boere van Agri Gauteng getoets, en die boere gee gereeld terugvoer oor watter funksies werk en watter nie. Van der Merwe het gesê die boere se insette is baie waardevol en gaan die maatskappy in staat stel om ’n boervriendelike produk daar te stel.