
“Dit gaan ’n lang tyd voortgaan, ek meen ons gaan ’n lang, uitgerekte oorlog sien,” het mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, gesê. Hy verwag dat inflasie internasionaal hoog gaan bly, hoewel die situasie rondom kommoditeitspryse gaan stabiliseer sodat pryse stelselmatig gaan begin daal.
Me. Madalet Sessions, portefeuljebestuurder by Denker Capital, glo ook dat die oorlog lank kan voortduur. Sy het gesê terwyl die wêreldekonomiese situasie onseker is, sal die Engelse gesegde “capital is cowardly” geld.
Sy en dr. Roelof Botha, ekonomiese adviseur by die Optimum Investment Group, het ook verwys na die gesegde dat kapitaal soos ’n koedoe, met indrukwekkende horings, skugter is en maklik vlug wanneer hy bedreig voel.
Volgens Sessions is daar steeds baie geleenthede vir beleggers in Suid-Afrika, maar sy het gesê almal gaan harder moet werk vir hul deel van die koek.
Is die land plofbaar?
Met die regering se dienslewering wat voortdurend verswak, lewenskoste wat toenemend styg, beurtkag, misdaad en verskeie ander faktore wat toenemend vir Suid-Afrikaners frustrasies veroorsaak, het Roodt gesê: “Ons wag vir ’n vonk en die land gaan ontplof. My grootste kommer is geweld in die strate, terwyl die regering afwesig is.”
Botha is van mening dat die pres. Cyril Ramaphosa stelselmatig die staat begin omdraai met sekere stappe wat gedoen word teen onder meer korrupsie. Oor Roodt se kommer dat die land kan ontplof, het Botha gesê: “Jy sê al 20 jaar lank die land gaan ontplof, en kyk, hier sit ons nog.”
Hoewel die twee ekonome se sienings oor verskeie kwessies verskil, het hulle mekaar gekomplimenteer oor hul werk en die feit dat hulle uiteenlopende kommentaar kan hanteer.
Insetkoste en lewensvatbaarheid
Prof. André Jooste van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch verwag dat insetkoste voortdurend ’n probleem vir boere gaan bly in die toekoms. Hoewel ’n verswakking in die wisselkoers beteken dat ’n boer meer inkomste met sy uitvoer kan verdien, moet hy ook hoër pryse van produksiemiddele vir die volgende seisoen absorbeer. “Ek verwag dat insetkoste ’n ernstige probleem in komende jare gaan wees.”
Jooste en Botha het gesê nog ’n kwessie wat ernstig aandag kort, is die statistieke wat beskikbaar is oor die landbou, asook die lewensvatbaarheid van boerdery.
Jooste het gesê die data wat Statistieke SA tans beskikbaar het, oorskat die lewensvatbaarheid en winsgewendheid van boerdery. Dis belangrik dat die regte feite beskikbaar is.
“Ek dink nie ’n boer maak ’n plan gaan ooit verander nie, want ons weet dis waar,” het Sessions gesê. Hoewel talle probleme boere en die landbou in die gesig staar, was die paneellede dit eens dat die spreekwoord nie sonder rede welbekend is nie. Ook wat hoë insetkoste betref, is boere reeds besig om innoverende planne op plaasvlak te maak om koste se bespaar en slimmer te werk.
Botha het die sessie afgesluit deur die aandag te vestig daarop dat voedsel, en dus die produksie daarvan, nooit vervang sal kan word nie. “Die landbou is ’n strategiese bedryf, wêreldwyd. Die landbou is baie, baie spesiaal.”
Hy het die gehoor gelaat met ’n leuse wat hy onlangs vir ’n bedryfsorganisasie saamgestel het: “ ’n Skouer aan die wiel, genoeg insig en genade van bo was nog altyd ’n wenresep in dié land.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.