
Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het Woensdag verskeie ingrypings aangekondig en gesê dié begroting is volgens hom “optimisties”. Daar gaan veral tot einde Februarie aandag aan onder meer infrastruktuur, veiligheid en sekuriteit en sukkelende staatsinstellings gegee word.
Dís wat Godongwana sê van . . .
1. Infrastruktuur en logistiek
Die minister erken daar is ’n krisis in die stand van Suid-Afrika se logistieke struktuur.
Die tesourie wil bykomend sy besteding aan die opknapping van die infrastruktuur verhoog.
Bykomende besteding aan infrastruktuur van R11,3 miljard word vir die volgende twee boekjare voorgestel. Die geld moet aangewend word om beskadigde munisipale infrastruktuur te herstel en provinsiale paaie op te knap.
2. Klimaatsverandering
Die koolstofbelasting sal vanaf 2023 en in die toekoms aansienlik verhoog word.
“Klimaatsverandering is besig om ons wêreld te verander, insluitend die ekonomiese omgewing. Hoewel dit moeilik is om enige spesifieke gebeurtenis toe skryf aan klimaatsverandering, word dit duidelik Suid-Afrika moet sy sokkies optrek om uitermatige weerstoestande te kan weerstaan. Swak infrastruktuur, verstedeliking en swak beplanning was byvoorbeeld van die grootste faktore wat bygedra het tot die vloedskade in April in KwaZulu-Natal.
3. Vloedskade
’n Netto bedrag van R13 miljard vir besteding in die huidige boekjaar is aangekondig waarvan die meeste – R6,3 miljard (49%) van die totale bedrag – aan die verligting van skade wat die vloede in April aangerig het, bestee sal word.
4. Covid-19-welsynstoelae (armoedetoelae)
Die armoedetoelaag wat weens die covid-19-pandemie ingestel is, gaan met nog ’n jaar verleng word tot Maart 2024. Die toelae word aan 7,4 miljoen mense betaal.
5. Veiligheid en sekuriteit
Gedurende die huidige boekjaar is 10 000 nuwe polisielede by die polisiemag gevoeg. Nog 15 000 gaan in die volgende boekjaar in diens geneem word.
’n Bykomende besteding van R8,9 miljard word ook oor die volgende twee jaar aan veiligheid en sekuriteit toegegee.
Inligting oor bykomende hulpbronne aan onder meer vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die spesiale ondersoekeenheid sal volgende jaar tydens die 2023-begroting uitgelig word.
Die bykomende hulpbronne moet die instellings help om ingewikkelde finansiële misdrwye te identifiseer en op geld en bates toe te slaan wat verkry is deur korrupsie en bedrog.
Daar sal ook in die 2023-begroting aandag gegee word aan die bekamping van geldwassery
6. Brandstofheffing
Geen onmiddellike verligting op die algemene brandstofheffing word voorsien nie. Die tydelike verligting wat die regering vroeër vanjaar aangekondig het, het in Augustus tot ’n einde gekom.
7. Reddingsboei vir Eskom
Eskom voorsien beurtkrag gaan vir ongeveer 18 maande voortduur.
Die kragverskaffers sit met R400 miljard skuld en die regering beoog om ’n derde tot twee derdes van dié skuld met streng voorwaardes oor te neem.
“Die skuldverligting sal egter nie al Eskom se probleme oplos nie,” volgens Godongwana.
Die nasionale tesourie is besig om ’n skuldverligtingsproses vir Eskom gereed te kry en meer inligting oor die reddingsboei, die bedrag en hoe dit toegepas sal word, gaan eers in volgende jaar se begroting uiteengesit word.
8. Transnet
Die Transnet-staking, verval van sy infrastruktuur, vandalisme en misdaad gaan voortgaan om druk op Transnet te plaas en kan sy vooruitgang belemmer.
Transnet sal bykomend R5,8 miljard vir die huidige boekjaar ontvang wat aangewend sal word om die vloedskade van April te herstel en sy lokomotiewe te herstel en in stand te hou.
Die toegang vir derde partye tot die spoorvragnetwerk word ook deur die tesourie aangemoedig.
9. Die Land Bank
Die minister het nie veel nuus oor die Land Bank bekend gemaak nie, behalwe dat dit steeds nie sy skuldverpligtinge kan nakom nie.
Die Land Bank verkeer onder finansiële druk en die proses om ’n oplossing hiervoor te vind, duur voort.
’n Bedrag van R5 miljard van geld wat aan die Land Bank toegeken is, bly in reserwe vir die huidige boekjaar totdat die Land Bank aan sekere voorwaardes voldoen.
10. Land se skuldvlakke
Skuldvlakke is besig om vinniger as verwag te stabiliseer en is 71,4% van BBP vir die huidige boekjaar tot einde Februarie 2023.
Die regering se skuldlas bly egter beduidend en dit gaan na verwagting meer as R4,7 biljoen vir die huidige boekjaar wees. Dit is aansienlik meer as die R627 miljard wat dit in die 2008-boekjaar was.Klik hier om die volledige verslag te lees.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.