
Me. Marthie Fourie, bemarkingsbestuurder van Eggbert Eggs, sê die maatskappy het van Armand te hore gekom nadat hy in Landbouweekblad se susterpublikasie Rapport en op GrootFM gesels het oor ’n besigheid wat hom reeds meer as R2 000 se sakgeld besorg het.
“Ons glo daarin om met ’n oop hand te lewe,” het Fourie verduidelik oor die skenking en bygevoeg dat Eggbert Eggs reeds verlede jaar gedurende die pandemie gratis eiers aan ’n aantal skole en nie-regeringsorganisies geskenk het om te verseker dat skoolkinders nie honger ly gedurende die moeilike inperkingstyd nie.
VOERSKENKING
Armand meen dat sy grootste uitgawe hoendervoer is, en hier het Eagles Rock Feed Mill van Magaliesburg in Noordwes twee 50 kg-sakke voer aan hom geskenk – nagenoeg twee maande se voer vir sy 20 henne.
Armand se ouers, Gerhard en Anneke, sê hulle weet nie waar die jong man se passie vir hoenderboerdery begin het nie.
“Hy het net een oggend opgestaan en gesê hy wil nou met hoenders boer. Toe bou ons vir hom die hoenderhuis onder sy klimraam en sedertdien boer Armand volsterkte met sy hoenders,” sê Gerhard.
Armand self is vol planne met sy boerdery om nog verder uit te brei en vertel dat hy nie die enigste hoenderboer in sy skool is nie. “Daar is nog ’n outjie by ons wat ook ’n besigheid het,” sê hy, maar meen nie dat daar in die nabye toekoms ’n samesmelting van die twee besighede sal plaasvind nie.
En sy wins? Vir eers sê Armand wil hy terugbelê in sy groeiende onderneming deur eers nog hoendervoer te koop, en daarna sal hy homself dalk bederf met die wins uit sy boerdery.