
Die sektorale onderwys-en-opleidingsowerheid van die landbou, AgriSETA, het onlangs plase besoek om die resultate van geld wat hulle geskenk het, te evalueer. Die AgriSETA het ’n jaar gelede R12 miljoen aan me. Judy Stewart se Future Farmers-stigting geskenk. Danksy hierdie skenking kon Future Farmers help om werkgeleenthede vir 200 voorheen werklose jeugdiges op boerderye in KwaZulu-Natal bewerkstellig.
Volgens mnr. Frikkie Fouché, waarnemende hoof van die AgriSETA, was die rede vir die besoek om te bepaal watter verskil projekte soos die Future Farmers-stigting maak. “Projekte (soos hierdie) gaan nie net oor ’n werkgeleentheid nie, maar oor die jeug wat geleenthede kry om te ontwikkel en oor volhoubare groei in die toekoms,” het Fouché gesê.
Me. Sandy la Marque is die uitvoerende hoof van Kwanalu, wat ’n sentrale rol gespeel het in die skenking van R12 miljoen aan die Future Farmers-stigting. Sy het die AgriSETA-afvaardiging bedank vir hul besoek en hul bemoeienis om ’n blywende verskil te maak in die opleiding van die jeug in die landbousektor.
“Oor die afgelope jaar het ons (via die Future Farmers-projek) daarin geslaag om werk vir 200 werklose gegradueerdes op plase in KwaZulu-Natal te kry. Die meeste van hierdie jong mense het reeds begin uitblink waar hulle werksaam is. Die Future Farmers-stigting maak die transformasie van ons jeug moontlik en bemagtig hulle om verantwoordelikheid te aanvaar vir ’n lewensvatbare, volhoubare toekoms.
“Die volgende stap is om die Regering aan te moedig om hierdie geskoolde en bevoegde, jong kommersiële boere te erken. Dit is hierdie jong mense wat die potensiaal het om ’n groot rol te kan speel in die omkeerstrategie vir die talle mislukte plase en om transformasie, ekonomiese groei en voedselsekerheid daar te stel,” het La Marque gesê.