
Die nuwe jaar het vir talle boere in Noordwes goeie nuus gebring, met tekens dat die streek waarskynlik naby of méér as die langtermyn-gemiddelde reënval vir Januarie sal ontvang.
Volgens mnr. Danie Smit, hoof van graanbemarking by NWK, toon hul syfers dat reeds sowat 60% van die langtermyn-gemiddeld reënval vir Januarie in hul streek geval het.
Met sowat drie weke nog oor in Januarie is hierdie syfer belowend vir boere van dié omgewing. Smit sê die westelike dele van hul streek, wat erg onder die droogte gebuk gaan, het ook goeie reën gekry.
Volgens me. Alani Janeke, woordvoerder van Vrystaat Landbou, is die Wes- en Suidwes-Vrystaat steeds baie droog, met die Oos-Vrystaat wat heelwat beter af is.
Neerslae op Brandfort en Bultfontein
Volgens Janeke het daar egter sedert 16 Desember van 70 mm tot 100 mm op Brandfort geval, terwyl Bultfontein verlede week tot 105 mm reën gehad het.
Op Tweeling het daar tot 110 mm in 36 uur geval, op Reitz 110 mm op een dag, terwyl Smithfield en Boshoff verlede week onderskeidelik 24 mm en 8 mm gehad het. Rouxville, wat maande lank geen reën gehad het nie en baie droog is, het sowat 20 mm reën gekry.
Me. Carina Knoetze laat weet op Landbouweekblad se Facebook-blad dat daar oor die afgelope naweek by Magaliesburg buite Krugersdorp sowat 92 mm reën geval het.
Die reën is egter op talle plekke slegs ’n druppel aan die emmer vir sommige plekke wat reeds jare lank ondergemiddelde reën gekry het.
Mnr. Piet van Heerden, wat boer naby Vorstershoop suid van die Botswana-grens, sê het hy die afgelope maand 160mm reën op sy plaas gemeet. Van Heerden vertel dat dit in die omgewing suid van die Gemsbokpark só droog is dat hy self gesien het hoe bokke in die veld vrek.
Mnr. Sarel Bornman van die plaas Jakkalsdans naby Hertzogville sê dat goeie reën sedert Kersfees op sy plaas geval het.
Talle boere in dié omgewing het in relatiewe droë omstandighede in Desember geplant maar sal nou baat vind by tussen 100mm en 140mm reën wat sedertdien hier geval het. Bornman sê wel dat daar waarskynlik windskade op van die oes sal wees.
Damvlakke styg
Volgens die Departement van Waterwese het die Welbedachtdam met 16,6% gestyg tot ’n vlak van 111,6%, die Gariepdam met 4,87% tot 48,5% en Vanderkloofdam met 2,7% tot 56,7%. Dié syfers is vir die periode van 7 Desember tot 7 Januarie. Die Rustfonteindam het in dieselfde periode met 1,39% gedaal tot 25,3%.
Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die Departement van Waterwese, het aan Netwerk24 gesê dat die Vaaldam ná reën oor die naweek van 44% tot 49,5% gestyg het.
Verdere syfers oor damvlakke in die noordelike provinsies sal Dinsdag amptelik bekend gestel word.