Volgens die data aangeteken was die gemiddelde temperatuur afwyking verlede jaar 0.48 °C hoër as die temperatuur afwykings tydens die verwysingsperiode (1981 tot 2010) aangeteken. “Dit maak dit die vierde warmste jaar op rekord sedert 1951,” sê dr. Andries Kruger, hoofnavorser vir klimaatdata-analise en navorsing by die weerdiens.
DroogteDie weerdiens se statistiek dui aan dat die grootste deel van die land verlede jaar normale reënval aangeteken het. Die mees noemenswaardige uitsondering wat aangeteken is, sluit die grootste deel van die Wes-Kaap en die westelike dele van die Noord-Kaap in, wat minder as 75% van die gebied se gemiddelde jaarlikse reënval ontvang het.
“Die laasgenoemde area in die Noord-Kaap was besonders droog met reënval wat minder as 50% van die gemiddelde (reënval) tussen 1981 en 2010 was,” lui ’n verslag deur die weerdiens.
Na dele van die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal 2016 as die droogste jaar nog aangeteken het, het toestande in KwaZulu-Natal begin herstel, terwyl dit in die Wes-Kaap verder versleg het. Die gemiddelde jaarlikse reënval vir Kaapstad tussen 1981 en 2010 is 543mm. ’n Totaal van 285mm is tydens 2017 aangeteken, wat die droogte situasie met drie jaar se ver-ondergemiddelde reënval verder versleg.
Swaar reën, hael en tornado’s
Volgens die weerdiens is uiterste weerstoestande gedurende die begin van die somer in 2017 aangeteken, met ’n laagdrukstelsel wat vanaf die noordwestelike dele van die land suidoos beweeg het. Dit het op 9 en 10 Oktober hewige donderstorms met swaar neerslae, sterk wind en groot hael oor dele van Noordwes, Gauteng, die Oos-Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo veroorsaak.
Drie tornados is in dié tydperk ook aangeteken, een by Ruimsig naby Roodepoort en Krugersdorp, een by Eloff in die distrik Delmas en een by Bethulie in die Suid-Vrystaat. Hael so groot soos tennisballe is ook by Krugersdorp aangemeld.
Die weerdiens het op 10 Oktober ook erge oorstromings in stedelike gebiede aangeteken, wat tot lewensverlies gelei het. In Durban is 108mm op dié dag aangeteken, waarvan 65mm tussen 09h00 en 10h00 daardie oggend geval het.
In die Virginia area in KwaZulu-Natal is 142mm daardie dag aangeteken, met 89mm wat tussen 11h00 en 12h00 daardie dag in daar gemeet is. Die windspoed by die King Shaka Internasionale Lughawe het op dieselfde dag tussen 75 en 78 km/h gewissel.