
*Hierdie berig is aangepas op 12 Desember, na die MPO Biggs se ouderdom aanvanklik as 24 aangedui het in die oorspronklike verklaring.
Die wenner, wat R40 000 ontvang, is gisteraand (30 November) op ’n galadinee in Pretoria aangekondig.
Die Biggs-familie boer sedert 2002 op die plaas Suiderland naby Humansdorp. Die MPO sê in ’n verklaring Biggs het ’n geesdrif vir diere en melk, en word ook geïnspireer deur sterk familiewaardes om altyd iets in ’n beter toestand te laat as waarin dit aan ’n mens gegee is.
“Suiderland is ’n droëlandplaas, dus het ons nog altyd volgens volhoubare boerdery- en bewaringspraktyke geboer,” sê Biggs. Hy melk tans 1 200 koeie en bestuur ’n hoogs suksesvolle kalfgrootmaakprogram.
Een van sy strategieë is om deeglike navorsing te doen oor die keuse van die regte tipe grasspesies en om dan ’n seleksie van graskultivars te kweek wat optimaal geskik is vir sy omgewing en die klimaat. Dit stel hom in staat om dít wat die natuur bied, ten volle te benut.
Hy is aktief betrokke by die boerdery, maar ook sy gemeenskap. Hy help opkomende jong boere en melkplaasbestuurders om hul vaardighede te ontwikkel. Hy help ook die MPO deur jong leerders toe te laat om opleiding op sy plaas te ontvang.
Respek vir die natuur
Mnr. Garth Hume van die distrik Riversdal het die tweede plek behaal. Die Hume-familie het in 1962 met hoofsaaklik Merino-skaap begin boer. Garth se oupa, mnr. Les Hume, het in 1964 met 25 koeie begin wat met die hand gemelk is, en 200 liter melk per dag aan Nestlé gelewe het. In 1975 het sy pa, Jack, aangesluit en in 2001 Garth se oudste broer, Brian. Garth, die jongste van drie broers, en sy vrou, Yolandi, het in 2009 by die familieboerdery aangesluit, en Gavin, die jongste broer, in 2012.
Vandag melk hulle ’n kudde van 800 melkkoeie, lewer steeds aan Nestlé en boer ook met sowat 400 vleisbeeste.
Hulle spits hulle toe op doeltreffende kuddebestuur, die gesondheid van die grond en goeie weidingbestuur. “Ons het die grootste respek vir die natuur en streef daarna om dit te beskerm. Ons glo daaraan om goeie grondgesondheid in stand te hou om die natuur te ondersteun om ons te voorsien van die beste moontlike weiding vir ons koeie, sodat hulle op hul beurt die beste moontlike gehalte van melk kan lewer.”
Garth glo dat boere slegs sowat drie dekades het om ’n verskil te maak en om die grond en waterbronne wat hulle tans geniet, te beskerm en te beveilig.
Betekenisvolle verskil
Mnr. Alan en me. Frances Webster van die plaas Foundation in die Weenen-omgewing, KwaZulu-Natal, het die derde plek behaal. Hulle boer saam met hul dogter, me. Jane Schiever, en haar man, Barry.
Foundation is in 1990 met minder as 20 Jersey-koeie begin, maar het vandag sowat 1 200 koeie.
Die Websters het uit die staanspoor deelgeneem aan die melkaantekeningskema en is al as die LNR as Meestersuiwelboer van die Jaar aangewys. Hulle het ook toekennings gewen in kuddekompetisies deur verskillende voermaatskappye, sowel as die Jersey-telersvereniging.
Weenen is ’n warm en droë gebied, maar daar is goeie voorsiening van besproeiingswater. Weens die hitte oorleef baie van die gematigde spesies weidinggras nie. Om hierdie rede word kikoejoe gesaai as ’n basis, met raaigras, lusern, klawer en sigorei of weëblaar (plantain) om voervloei reg deur die jaar te lewer. Mielies word ook geplant en gesny vir kuilvoer. Voermeel van ’n goeie gehalte word by die mengsel gevoeg.
Die plaas gebruik ’n sliktenkwa om diere-afval na die weiveld terug te neem. Die benutting van slik, asook die insluiting van peulgewasse in die weidingmengsel stel hulle in staat om die gebruik van stikstof te verminder.
Die Websters het ook sonpanele geïnstalleer en beoog om in die komende seisoen besproeiingsondeerders te gebruik.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.